Xanthe Hancox

Die trekooievaar ken sy tye van kom en gaan, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël kom op 'n vaste tyd terug, maar my volk wil nie weet wat die Here vir hulle vasgestel het nie.  Jeremia 8:7

Ek dink as die profeet Jeremia in sub-Sahara Afrika gewoon het, sou hy miskien oor die 10 miljoen vrugtevlermuise wat ongeveer hierdie tyd van die jaar Zambië van die Kongo af binneval, geskryf het. Maar Jeremia het ver van Zambië gewoon en sonder David Attenborough om hom oor vlermuise en wilde beeste in te lig, het hy God se se skepping vir homself  waargeneem.

Terwyl hy nagedink het oor Israel wat geweier het om hulle sondes te bely en na God terug te keer, het hy ook gedink oor die ooievaars en die duiwe wat instinktief geweet het wanneer dit tyd was om huis toe te gaan. Ooievaars het teen ongeveer einde Maart in Palestina aangekom, en na ongeveer ses weke het hulle na die noorde van Europa getrek. Vir Jeremia was die verskyning van die tortelduiwe 'n aanduiding dat die lente op pad was. Dit het elke jaar sonder uitsondering gebeur. Elke jaar het die ooievaars aangekom en weer vertrek, en die tortelduiwe het op tyd aangekom. Niemand het hulle aangesê om te arriveer nie. Niermand het vir hulle die rigting aangedui nie. Hulle het net eenvoudig geweet waar hulle op 'n sekere tyd moes wees.

Die Israeliete het egter nie geweet waar hulle hoort nie. Hulle het hulle verhouding met God en die nabyheid wat daarmee saamgaan, verloor. Hulle het die buitengewone nagejaag, afgode aanbid en die intimiteit wat hulle met God gehad het, verloor.

Ons is dikwels net soos die Israeliete en toon minder verstand as 'n ooievaar. Ons is deur 'n liefdevolle Skepper gemaak wat aan elkeen van ons rede gee om terug huis toe te wil kom. In sy teenwoordigheid is daar hoop, liefde, blywende beskerming en blydskap. Weg van Hom is daar tydelike plesier, maar ewige verlies en wanhoop. Hoekom is ons so vasberade om vir ons eie vernietiging verantwoordelik te wees?

Gebed: Vader, vergewe ons wanneer ons van U weghardloop. Lei ons elke dag terug na U. Amen