Xanthe Hancox

Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie 'n leier nie, nie 'n opsigter of 'n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd.  Spreuke 6:6-8

Die werksetiek en wysheid van miere is geen geheim nie. 'n Antieke Chinese spreuk uit ongeveer die vyfde eeu v.C. lui: "'n mier aan die beweeg, doen meer as 'n slapende os." Salomo gebruik die gewoontes van hierdie hardwerkende klein insek om ons aan te moedig om met wysheid te werk.

God self is 'n werker. Hy het die heelal gemaak, en deur sy Seun werk Hy om alles nuut te maak.

As mense is ons geskep om iets by te dra en 'n rol in ons gemeenskappe te vervul. Luiheid en 'n gebrek aan betrokkenheid sonder rede pas eenvoudig nie by wat God vir ons beplan het nie. Deur die gebruik van ons hande en verstand, en deur te doen wat ons gesondheid en krag ons toelaat, weerspieël ons die beeld van God en beantwoord ons aan dit waarvoor Hy ons geroep het.

Die mier word ook geprys vir sy werk wat hy getrou doen, selfs al het hy "nie 'n leier nie, nie 'n opsigter of 'n regeerder nie". Een van die seëninge van die nuwe verbond is dat die wet van God nou in ons gedagtes vasgelê is en in ons harte is. (Jeremia 31:33)  Die Gees van God skep in ons die begeerte om deur die talente wat Hy aan ons gegee het, sy Koninkryk en Kerk te dien. Kom ons doen die werk waartoe ons geroep is gewillig en met blydskap, of dit nou betaalde of onbetaalde werk is, in ons gesinne, gemeenskappe, kantore, skole, kerke, waar ook al God ons geplaas het.

Gebed: Dankie Here vir u wonderlike skepping. Help ons om na die miere te kyk en met blydskap ons werk te doen en te rus wanneer nodig. Amen