Xanthe Hancox

By hulle aankoms in Kapernaum het die amptenare wat die tempelbelasting invorder, na Petrus toe gegaan en gesê: “Wat van julle leermeester? Betaal hy dan nie tempelbelasting nie?” “Ja, natuurlik,” antwoord hy. Toe hy in die huis kom, was Jesus hom voor met die vraag: “Simon, hoe dink jy: Van wie vorder die konings van die wêreld tol of belastings in? Van hulle seuns of van ander mense?” Toe Petrus antwoord: “Van ander mense,” sê Jesus vir hom: “Dan is die seuns mos vrygestel. Maar ons moenie hierdie mense aanstoot gee nie. Gaan see toe en gooi hoek in, en die eerste vis wat byt, moet jy uittrek. As jy sy bek oopmaak, sal jy 'n silwermuntstuk daarin kry. Vat dit en betaal hulle die belasting vir My en vir jou.”  Matteus 17:24-27

Petrus moes gewonder het hoekom God sy eie Seun belasting laat betaal. Hy is na die huis waar Jesus was om Hom daaroor uit te vra. Voor hy nog 'n kans kon kry vra Jesus hom egter 'n vraag wat hom verbaas het.

Jesus antwoord die vraag met 'n metafoor waarvan die kern die volgende is: Konings vorder nie belasting van hulle kinders in nie, en God is die Koning van die tempel, so Jesus as die Seun van God, is dus vrygestel van tempelbelasting (Matteus 17:26).

Dit maak sin. Jesus was onder geen verpligting om die belastinggaarders enigiets vir Hom of vir Petrus te betaal nie. Maar Jesus het dit betaal. Deur genade het Hy op 'n wonderbaarlike manier Petrus se belasting ten volle betaal. Nie lank daarna nie, het Hy ook Petrus se ewigheidskuld aan die kruis betaal.

Ons moet daarop let dat Petrus egter iets moes doen. Eerstens, moes hy Jesus vertrou en tweedens moes hy sy visgerei uithaal en na die meer toe gaan en hoek ingooi. Die muntstuk het nie net uit die hemel geval nie! Verwag ons soms dat die Here net eenvoudig alles vir ons moet gee? Nee, kom ons wees gereed om vir Hom te werk!

Gebed: Dankie Here dat in hierdie merkwaardige verhaal U uself aan ons openbaar as die almagtige Seun van God wat deur genade in al ons daaglikse behoeftes voorsien. Vergewe ons asseblief vir die kere wat ons onwillig is om U werk te doen. Amen