Xanthe Hancox

Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos 'n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook 'n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” Matteus 3:16-17

Het jy al ooit gewonder hoekom die Heilige Gees in die Nuwe Testament as 'n duif verskyn? Sou dit nie meer indrukwekkend gewees het as die Gees as 'n kragtige leeu of tier verskyn het nie? As dit dan 'n voël moes wees, hoekom nie 'n arend of 'n albatros wat tog meer impak sou gemaak het as 'n duif?

Die antwoord is in Jesaja 42:1-4 waar God sy dienaar bekendstel en beloof om sy Gees op hom te laat kom en waar Hy hom uitstuur om sy wil aan die nasies bekend te maak. Hoe gaan die dienaar dit bereik? Nie deur krag nie, maar deur sagmoedig, rein en nederig te wees. "'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, 'n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie." (Jesaja 42:3)

Hierdie profesie word deels vervul by Jesus se doop toe die Heilige Gees as 'n duif neergedaal het as 'n bewys dat Jesus die swakkes liefhet, omgee vir diegene wat ly, en bo alles, vrede en versoening met God bring. 'n Valk weerspieël nie dieselfde tipe sagmoedigheid nie, of hoe? Jesus bevestig dit later deur sy woorde: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. … want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. (Matteus 11:28-29)

Deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons lewens weet ons dat vrede en versoening met God die Vader kom net deur Jesus te ken. Bly in daardie vrede vandag en tot in ewigheid.

Gebed: Heilige Gees, daal soos 'n duif op ons neer. Bring deur u teenwoordigheid vrede in ons lewens sodat ons die vrede van Jesus met die wêreld kan deel. Amen