Xanthe Hancox

My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie, want Hy het bevind dat ek nie teen Hom oortree het nie. Ook teenoor u het ek niks verkeerds gedoen nie, U Majesteit.” Die koning was baie bly en het beveel dat Daniël uit die leeukuil gehaal moes word. Toe Daniël uit die leeukuil gehaal is, was daar geen letsel aan hom nie, omdat hy op sy God vertrou het.  Daniël 6:23-24

Daniël se loopbaan het met rasse skrede gevorder. Hy het bevordering na bevordering gekry, sy baas het baie van hom gehou, en hy was gelukkig in sy werk. Daar was net een klein probleempie: sy kollegas. Hulle was seker baie gelukkig toe koning Darius hulle dekreet onderteken het dat vir 30 dae niemand enige ander god of mens mag aanbid nie. Hulle het geweet dat daar geen manier was dat Daniël sou ophou om tot sy God te bid nie. Ek dink nog altyd dat hierdie mans wat teen Daniël saamgesweer het, eintlik die ware leeus in die storie is.

Maar wat van Daniël? Wat het hy gedoen?

Absoluut niks. Hy was 'n slim man, en hy moes geweet het dat mense teen hom saamsweer. Hy het egter aangehou om te doen wat hy elke dag doen. Hy het voortgegaan om te bid. Hy het nie probeer om 'n ooreenkoms met die samesweerders aan te gaan nie, en selfs toe dit gelyk het of dit hom sy lewe mag kos, het hy nie sy rug op God gekeer nie.

Let daarop dat God het Daniël nie uit die leeukuil gehou nie. Hy het wel oor die mag beskik om dit te doen, net soos Hy oor die mag beskik om jou van gevaar en swaarkry te weerhou. Daniël moes steeds die leeus trotseer, maar God het hulle bekke gesluit, en Daniël is verlos.

Die Here laat toe dat sy kinders swaarkry. Maar as Christene moet ons hoop dat al gebeur wat ook al, die Here ons sal beskerm. Dit is die belangrikste les wat ons van Daniël en die leeukuil leer. Daar sal altyd leeus oor ons pad kom, maar die Here sal ons die moed en krag gee om hulle te trotseer.

Gebed: Liewe Heer, gee my die krag om, selfs wanneer ek groot probleme ondervind, op U te vertrou. Leer my om Daniël se voorbeeld te volg en aan te hou om te bid, selfs wanneer dit lyk of daar geen hoop is nie. Amen