Xanthe Hancox

Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. Sodoende sal hy die sonde op die kop van die bok oordra. Iemand wat beskikbaar is, moet dan die bok die woestyn injaag. So sal die bok al hulle sonde met hom saamdra na 'n onherbergsame streek toe en daar in die woestyn moet hy agtergelaat word.  Levitikus 16:21-22

Wanneer dit kom by iemand om the blameer, is die verhaal van die groot alk seker die vreemdste. Een van hierdie groot seevoëls het in 1840 op St Kilda, 'n klein eilandjie aan die weskus van Skotland, aan land gekom. 'n Groep van die eilandbewoners het dit gevang en kort daarna het 'n woeste storm oor die eiland uitgebreek en baie plaaslike vissermanne het gesterf. Die bewoners van St Kilda wou iemand hê om te blameer, hulle het 'n sondebok gesoek. Die alk het vir hulle gelyk na 'n moontlike sondebok en is as 'n heks verhoor, skuldig bevind en doodgemaak. Dit was tot dusver die laaste groot alk wat in Brittanje gesien is.

Die oorsprong van die woord 'sondebok' kom van 'n seremonie wat op die Joodse Dag van Versoening (Jom Kippoer) met twee bokke uitgevoer is. Die hoëpriester het die een bok geoffer en dan simbolies die sonde van die mense op die kop van die ander geplaas – die sondebok – voordat dit die woestyn ingestuur is en al die sonde van die volk met hom saamgedra het. (Levitikus 16:7-10)

Maar met die koms van Jesus, het Hy die sondebok geword. Hy het Homself eens en vir altyd geoffer vir die sondes van die hele wêreld. (1 Johannes 2:2; Hebreërs 7:27) Daardie eerste bok wat as 'n sondoffer vir die volk van God geoffer is, het Jesus se offer aan die kruis gesimboliseer. Die tweede bok verteenwoordig Jesus, heeltemal onskuldig, maar tog verwyder Hy ons skuld en sonde. Nie een van ons is sonder sonde nie, en tog sien God die volgelinge van sy Seun as onskuldig want Jesus het al die skuld wat ons verdien op Hom geneem.

Gebed: Dankie dat Jesus al ons sonde op Hom geneem het en dat ons verlos is. Ons kom in u teenwoordigheid met blydskap en dankbaarheid, nie omdat ons iets gedoen het om dit te verdien nie, maar slegs deur Jesus alleen. Ons loof en prys u Naam. Amen