Xanthe Hancox

Toe gaan die Engel van die Here verder en gaan staan in 'n nou plek waar daar nie kans was om na enige kant toe uit te draai nie. Die donkie het die Engel van die Here gesien en het onder Bileam gaan lê. Bileam het so kwaad geword dat hy die donkie met 'n stok geslaan het. Toe laat die Here die donkie praat, en die donkie sê vir Bileam: “Wat het ek jou aangedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?  Numeri 22:26-28

Donkies is nou nie juis bekend vir wysheid en insig nie. Ons dink eerder aan hulle as hardkoppige en ietwat komiese diere; ek dink byvoorbeeld onmiddellik aan Eddie Murphy se karakter in die animasierolprent Shrek. Bileam se donkie is egter definitief nie jou stereotiepe nie.

Bileam was daarop ingestel om sy eie kop te volg. Koning Balak was Israel se vyand. Hy het geglo dat as Bileam Israel vervloek, hy hulle definitief sou kon verslaan. God het reeds vroeër vir Bileam gesê om nie na Balak toe te gaan nie, en alhoewel hy God eers gehoorsaam het, het gierigheid en sy ego uiteindelik die oorhand gekry.

Die Here het 'n engel met 'n ontblote swaard gestuur om Bileam voor te keer, maar alhoewel Bileam 'n siener was, kon hy nie sien wat sy donkie gesien het nie. Salig onbewus wat voor hom in die pad staan, het Bileam die arme dier herhaaldelik geslaan, todat die Here die donkie 'n stem gegee het om Bileam te laat ophou. (lees gerus die volle verhaal in Numeri 22:21-41).

Bileam se ambisie het hom so verblind dat hy oortuig was dat sy lojale donkie die probleem was. Die probleem was egter nie die donkie of die engel nie. En die probleem was ook nie die Here nie.

Soms is dit wat ons as 'n hindernis beskou, die Here se manier om ons te beskerm. Wanneer ons eerlik met onsself en die Here is, word dit duidelik dat die frustrasies en woede in ons lewens dikwels deur onsself veroorsaak word en veral deur ons hardkoppige onwilligheid om God te gehoorsaam.

Gebed: Here, soos Bileam hou ons so dikwels aan om ons eie kop te volg. Help ons om vandag te luister wanneer U deur u Gees met ons praat. Amen