Xanthe Hancox

“Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”  Matteus 10:29-31

In die tyd wat Jesus hier op aarde sy dissipels aangemoedig het om gelowig vir God te leef, was dit moontlik om mossies op die mark te koop teen so twee vir 'n paar sent. Dit is omtrent die waarde van 'n paar chappies-kougom.

Mense mag dalk nie baie omgee vir mossies nie, maar God gee wel vir hulle om. In vandag se teks klink dit asof Jesus sê dat 'n mossie doodgaan wanneer dit God se wil is. Die oorspronklike Griekse teks, noem egter nie die wil van die Vader hier nie. Die lees letterlik: "Nie een mossie sal op die grond val sonder die Vader nie." Om dit meer verstaanbaar te maak, het die vertalers 'n verwysing na die wil van God hier bygevoeg, maar miskien lees die oorspronklike teks beter.

Dit verseker ons dat die Here se einddoel is nie dat ons moet ly nie, maar dat Hy by ons is in elke pynvolle ervaring wat ons mag beleef. Mossies en alle ander lewende wesens sal uiteindelik ly en doodgaan. Maar soos Lukas dit in sy weergawe van hierdie teks stel, die vertroostende nuus is dat God nie een van hierdie mossies sal vergeet nie. (Lukas 12:6)

Baie van die mense wat na Jesus geluister het was arm en afgeleef, hulle het dikwels vergete en waardeloos gevoel, baie soos 'n dooie mossie op die mark. Die godsdienstige elite van die dag en diegene met goeie konneksies en baie invloed, het hulle geïgnoreer. Maar in die oë van God was elkeen van hulle – en elkeen van ons – so waardevol dat Hy sy Seun gestuur het om hulle en ons te red.

Jesus leer ons dat alhoewel slegte dinge mag gebeur—en God laat dit toe—is Hy egter steeds by ons. God is by ons om ons te vertroos, ons lewens ten goede te verfyn en te hervorm. (Romeine 8:28) Om op God te vertrou, sal nie al die geheimenisse van sy wil oplos nie. Maar dit bevestig wel die genade van sy teenwoordigheid.

Gebed: Here, help my vandag om te besef hoeveel ek vir U werd is. Help almal wat swaarkry om te besef dat U by hulle is. Gebruik ons om u liefde aan hulle te bewys. Amen