Xanthe Hancox

“Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat al bot. Hooglied 2:15

Hierdie fassinerende liefdesverhaal in Hooglied bevat 'n hele aantal interessante beelde. Een is van 'n pragtige wingerd in die vroeë lente. Die wingerd word egter bedreig deur klein jakkalsies wat die druiwekorrels eet nog voordat dit ryp is.

In hierdie Skrifgedeelte word die beginsel van die klein dingetjies uitgelig. As ons die klein dingetjies ignoreer, gaan hulle eendag groot dinge word en ons met groot probleme laat.

Indien "klein sondetjies" ongestraf gelaat word, kan dit groot skade doen. Ons lees in Prediker 10:1 oor die gevaar van 'n bietjie dwaasheid: "Dooie vlieë laat salf stink en gis, 'n bietjie dwaasheid doen meer kwaad as wat wysheid en eer goed doen." Soos dooie vlieë salf laat stink, so kan klein dwaashede ons wysheid en eer aantas. 'n Persoon na wie ander opkyk omdat hy 'n goeie reputasie het, kan dit deur een dwase daad of deur 'n goddelose houding vernietig.

In Lukas word ons daaraan herinner dat "… hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde” (Lukas 7:47). Soms raak ons 'n so selfvoldaan, 'n bietjie lui en lou in ons liefde vir Jesus en ons vergeet dat ons geroep is want "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand." (Matteus 22:37) Wat begin het as 'n allesoorheersende liefde vir Jesus, kwyn soms totdat dit op 'n dag nog skaars leef.

Dieselfde kan met dankbaarheid gebeur. Ons ken die teksvers wat lui: "Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag." (1 Tessalonisense 5:16-18) Hoe dikwels aanvaar ons nie iets as vanselfsprekend nie? Hou nie ons stiltetyd nie? Kla instede van om bly te wees? Dit mag na klein dingetjies klink, maar stadig maar seker verwater dit ons geloof.

Gebed: Dankie Vader vir die voorbeeld van die klein jakkalsies. Vergewe asseblief al die kere wat ek toelaat dat sonde my lewe binnedring. Beskerm my elke dag teen alle sonde, al lyk dit ook hoe klein en onbeduidend. Amen