Xanthe Hancox

Toe het Ek vir hulle geword soos 'n leeu, soos 'n luiperd wat vir hulle langs die pad voorlê. Ek sal hulle aanval soos 'n beerwyfie wie se kleintjies afgeneem is. Ek sal hulle borskaste oopskeur. Soos 'n leeu sal Ek hulle daar verslind. Roofdiere sal hulle uitmekaarskeur.

Hosea 13:7-8

 

In Hosea lees ons oor die selfvernietigende gedrag van die Israeliete wat God nie kon verdra nie. Israel het gekies om 'n klomp selfgemaakte afgode te aanbid en hulle het uit hulle eie idees 'n godsdiens gevorm eerder as om die Woord van God te volg. Die profeet Hosea waarsku Israel dat daar tragiese gevolge sal wees omdat hulle hulle hulle verbond met God verbreek het.

Die boek Hosea is nie maklike leesstof nie. In hoofstuk 13 word God byvoorbeeld uitgebeeld as 'n wilde dier, 'n beerwyfie wat van haar kleintjies beroof is.

Hoekom vind ons sulke skokkende beeldspraak in die Bybel? Miskien is ons soms geestelik so traag en lui dat ons geestelike skokterapie benodig. Die beeld in hierdie gedeelte is bedoel om ons met die groot liefde van ons God te skok.

Ek het vanjaar vir die eerste keer ma geword en vir die eerste keer verstaan ek iets van die felheid van hierdie liefde. Ek is nie 'n geweldadige persoon nie, maar as enigiemand probeer om my seuntjie van my weg te neem, kan dinge vinnig hand uit ruk!

Ons God het ons te lief om net te staan en toekyk hoe ons die waarheid ignoreer en afgode aanbid. Hy het ons te lief om ons aan die sonde oor te laat.

Mag ons vandag genoeg skokterapie ontvang om so vinnig as wat ons kan, weg te hardloop van enige vernietigende gedrag na die arms van dié God wat ons geweldig liefhet.

Gebed: Liefdevolle God, ons kan nie die diepte van u beskermende liefde vir al u kinders bepaal nie. Help ons om te verstaan dat u geweldige liefde selfs die dood oorwin het. Amen