Xanthe Hancox

Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: “Meneer, ons wil 'n wonderteken van u sien.” Maar Hy antwoord hulle: “'n Slegte en afvallige geslag vra 'n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van 'n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees.  Matteus 12:38-40

Selfs mense wat nooit Sondagskool bygewoon het nie, ken die storie van Jona en die "walvis". Dit is ook een van daardie stories wat aanleiding gee tot 'n groot debat oor of ons die Bybel letterlik moet interpreteer en of 'n verhaal soos dié van Jona, slegs 'n metafoor is. Dit is so maklik om so betrokke te raak by die spysverteringskanale van seesoogdiere dat ons die punt van Jona se verhaal geheel en al mis.

Die Fariseërs het ook die verhaal geken, en soos die geval dikwels met ons moderne mense is, het hulle ook die kern van die verhaal gemis. Ons geslag wil die waarheid van die Bybel met feite bewys, en hulle het vir tekens gesoek dat Jesus is wie Hy gesê het Hy is.

In reaksie gee Jesus 'n antwoord wat net so relevant vir ons geslag is as wat dit vir die Fariseërs was: "die teken van die profeet Jona." Jesus verduidelik: "Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van 'n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees."

Die kern van die verhaal van Jona is om ons na die dood van Jesus en sy opstanding te verwys.

Die vis het Jona op droë land uitgespoeg en op Paassondag is die graf geopen om te wys dat Jesus die dood oorwin het. Omdat Jesus opgewek is, is die verlosssing wat Jona ontvang het, ook vir ons beskikbaar.

Net soos wat dit vir die Fariseërs belangrik was om die tekens te lees, is dit ook vir ons belangrik om die tekens wat na Jesus die Verlosser en Koning wys, raak te sien. En God openbaar dit deur die krag van sy Gees aan ons in sy woord, die Bybel.

Gebed: Here, gee aan ons die geloof om te glo dat Jesus die Messias, die Seun van God is, en dat deur in Hom te glo ons die ewige lewe in sy Naam sal ontvang. Amen