Xanthe Hancox

Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. Jesaja 40:28b-31

Hierdie pragtige poëtiese verse van die profeet Jesaja is seker van die bekendste tekste in die Bybel. Die beeld van die arend wat sorgeloos hoog bo rotsagtige bergklowe die lug klief met al die sorge van die wêreld daar ver onder, het my nog altyd vreeslik beïndruk. Arende is nie net grasieus nie. Hulle is ongelooflik sterk en vasberade. Kyk gerus na hierdie kort video.

Toe hierdie woorde geskryf is, was die volk van God in ballingskap. Hulle het voortdurend nuwe uitdagings gehad om te oorkom en dit het tot angs en wanhoop aanleiding gegee. Hulle was moedeloos en sonder hoop, en dit het gelyk asof God hulle verwerp en vergeet het.

Miskien voel jy vandag so.

Die Bybel beantwoord ons vrae oor sonde en ellende deur ons na die ewige God te verwys. In reaksie op ons probleme, herinner die Bybel ons aan iets wat ons dikwels vergeet wanneer die lewe verskriklik moeilik raak: die ewige getrouheid van God wat volkome in Jesus aan ons geopenbaar word. Die profeet verseker ons dat ons God die wêreld wat Hy geskep het, nooit sal vergeet nie.

Die Christelike geloof ontken nie die werklikheid van ons vermoeidheid nie, maar dit gee ons hoop. God wil dat ons almal " hoog vlieg" gevul met hoop – nou en vir ewig. Saam met God wat nie moeg word nie, is die lewe nooit sonder hoop nie. Dit maak nie saak in watter situasie ons ons bevind nie, ons kan hoop hê en die Gees van God verseker ons dat die beloftes van die Here altyd waar is.

Gebed: Here, so dikwels word ons moeg. Skenk aan ons die krag en vasberadenheid om hoog soos arende te vlieg, opgelig deur u Gees. Skenk aan die vermoeides krag en help ons om ons hoop op U alleen te vestig. Amen