Xanthe Hancox

Moses het die slang in die woestyn hoog op 'n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.  Johannes 3:14-15

Ek het dit altyd moeilik gevind om hierdie vergelyking tussen Jesus en 'n slang te verstaan; dit klink vir my na laster.

Om te verstaan hoekom Jesus self hierdie vergelyking getref het, moet ons terug na die Ou Testament gaan. Die Israeliete wou die Beloofde Land bereik en die kortste pad was deur die gebied van Edom. God het egter vir Moses gesê om nie teen die Edomiete te veg nie en om eerder met 'n omweg na Kanaän te trek.

Op hierdie stadium het die Israeliete ongeduldig geraak. Hulle kon eenvoudig nie verstaan hoekom hulle nie deur Edom kon trek en al die Edomiete wat in hulle pad gestaan het, doodmaak nie. En so, terwyl hulle volgens hulle die verkeerde rigting ingeslaan het, het hulle begin om teen God en Moses in opstand te kom. Die gevolg was dat die Here giftige slange onder die volk ingestuur het. Die meeste teoloë is dit eens dat hierdie giftige slange se byt heel moontlik soos vuur gebrand het voordat die persoon wat gepik is, gesterf het.

Die Israeliete het besef dat hulle gesondig het en vir Moses gevra om vir hulle verlossing te bid. Oral het mense gesterf en hulle het hulp nodig gehad. God het toe vir Moses gesê om 'n koperslang te maak en dit op 'n paal te sit. Elke Israeliet wat gepik is, sou nie sterf as hulle na die koperslang kyk nie.

Die beeld van 'n slang op 'n paal, versinnebeeld vandag nog genesing en seën van God. En net soos die Israeliete God moes vertrou en na die slang moes kyk om te kon oorleef, so moet ons Jesus vertrou en na die kruis kyk, sodat ons kan leef. Die Israeliete kon niks doen om hulleself van die gevolge van sonde te red nie, en daar is niks wat ons kan doen om onsself te red nie. Die genesing vir hulle was eenvoudig, en vir ons is dit ook heel eenvoudig. Wend jou tot Jesus.

Gebed: Here, dankie vir die voorbeeld van die Israeliete. Gee dat ons ons tot Jesus sal wend en op Hom sal vertrou. Amen