Xanthe Hancox

U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het, en tog, U het alles in wysheid geskep. Daar is die see, groot en wyd, wat wemel van diere, klein en groot. Psalm 104:24-25

Ek hou baie van dokumentêre films oor die natuur. Gee my 'n koppie tee, sjokoladekoekies en die rustige klank van David Attenborough se stem, en ek is uitgesorteer vir 'n Vrydagaand. Die grootste deel van Blue Planet II het my verstom. Terwyl koekies in my tee val, het ek my vergaap oor 'n seekat wat vermom met seeskulpe, in 'n geveg met 'n haai betrokke is en dan boonop die geveg wen.

Psalm 104 is 'n wonderlike loflied tot God die Skepper en ek wil jou aanmoedig om al 35 die verse te lees.

Vers 24-25 getuig veral van God se almag en heerskappy oor die skepping. Hierdie verse is soortgelyk aan die begin van die psalm waar God geloof word vir die wonder van sy skepping. Vers 24 gaan egter voort met die woorde: "… U het alles in wysheid geskep." Niks in die liggaam of gedrag van daardie seekat is lukraak of per toeval nie. Ons God is 'n God van die fynste besonderhede en volmaakte ontwerp. Alles het 'n doel en niks gebeur sommer net per ongeluk nie.

Die Bybel verwys dikwels na diere. Soms is hulle die hoofkarakter in die storie en soms word hulle as 'n metafoor gebruik. Sluit gerus hierdie Oktober by my aan om uit te vind wat God se woord ons leer wanneer ons al sy skepsels, groot en klein, 'n bietjie van nader beskou.

Gebed: U majesteit en u doel met u skepping is elke dag sigbaar as ons net tyd wil neem om dit raak te sien. Ons aanbid U, die God van alles wat mooi en volmaak is, die God wat in die fynste besonderhede alles in wysheid geskep het. Amen