Ewald Schmidt

“Selfs al gaan ek deur donker dieptes sal ek nie bang wees nie, want U is by my, in u hande is ek veilig. U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly, en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae …” Psalm 23:4-6

Hierdie maand se reis het begin met Psalm 23, met die beeld dat God ons Herder is, wat ons lei op die regte paaie tot die eer van sy Naam. Ons lewe saam met die Here word ‘n pelgrimsreis. Soms is daar donker dieptes op ons lewenspad. Die 1933/1953-vertaling het dit die “dal van doodskaduwee” genoem. In die donkerste dieptes, selfs deur die dood heen, is die Here steeds ons goeie Herder wat ons lei. Op hierdie lewenspad hoef ons nie in vrees te lewe nie, want ons is veilig in ons Herder se hande.

Elke pelgrimstog het ‘n eindbestemming. In Psalm 23:5 verander die beeld waarmee gelowiges beskryf word. Tydens ons pelgrimstog is ons soos skape wat in ons Herder se voetspore volg. Die Herder lei ons na groen weivelde en waters waar vrede is, en deur donker dieptes. Op ‘n dag is die lewensreis egter klaar, ons bereik ons bestemming. Ons rol verander, nou word ons gewaardeerde eregaste by die feesmaal in ons Vader se huis.

Hierdie Psalm kom uit ‘n nomadiese herdersagtergrond. Vir mense wat in tente gewoon het, en dag vir dag ‘n sukkelbestaan gevoer het, was ‘n feesmaal in ‘n huis die wonderlikste ding wat hulle aan kon dink. Dawid sê: so lei die Herder ons, tot by die ewige heerlikheid wat wag. Eendag sal ek tuiskom in die huis van die Here, vir altyd.

Terwyl ons nog onderweg is, is daar twee reisgenote wat ons nie altyd eers raaksien nie. Die Here se goedheid, en sy liefde sal saam met my onderweg wees, elke dag van my lewe. Vandag mag dalk getuig van donker dieptes. Maar die Here se goedheid en liefde is vandag saam met my op pad. Vandag is nie die einde van die reis nie, want ek is nog nie in die Vader se huis nie. Die toekoms is altyd vol hoop.

Langs hierdie lewenspad is daar ook teenstanders. Omstandighede, mense met kwade bedoelinge, natuurrampe, wat ook al dit is wat die kind van God op sy pad probeer keer. Maar eendag sal ons tuiskom in ons Vader se huis, aansit by die feesmaal, terwyl die teenstanders verslae sal toekyk. Alle bose planne teen die kind van God sal uiteindelik misluk. Ons toekoms is veilig in ons Herder se hand. Kom ons volg tree vir tree waar Hy ons lei op die lewenspad, dit bly die beste pad vir ons.

Gebed: Dankie Here dat U met my onderweg is. Dankie dat u goedheid en u liefde elke tree van die pad saam met my is. Dankie dat my toekoms veilig in u hande is. Seën my dan nou Here, dat my lewe ‘n seën vir ander kan wees. Amen.