Ewald Schmidt

“God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan.” Psalm 18:33-34

Die lewensreis is nie altyd net maklik nie. Elke gelowige se lewe ken uitdagende tye, tye wat ons tot die uiterste toe beproef. Hierdie mag dalk nie ‘n pelgrimslied wees nie, maar dit beskryf dankbaarheid nadat die Here Dawid gered het uit die mag van sy vyande.

Dit is in die uitdagende tye dat ons ontdek wie ons regtig is. Dit is in sulke tye wat ons ook die diepte van God se genade persoonlik leer ken. Ons omstandighede kan soms voel asof dit ons verstrengel. Dit is die beeld wat Dawid hier gebruik. Die kleredrag van die woestyn is bedoel om los te hang, om so die hitte te kan hanteer. Wanneer iemand dan in ‘n geveg betrokke raak, is daardie los klere gevaarlik. ‘n Gordel is noodsaaklik om dit bymekaar te trek, en beweeglikheid te gee vir die stryd wat voorlê. Dawid vra dat die Here hom sal omgord met krag, dit wil sê dat God se krag die gordel sal wees wat alles mooi bymekaar hou in die stryd. Ons vind hierdie beeld ook in Efesiërs 6, waar die waarheid die gordel is wat ons keer om verstrengel te raak in die leuens van die wêreld.

Dawid getuig dat die Here sy pad voorspoedig maak. Dit is die Here wat ons geroep het om Hom te volg op ons lewenspad. Dit is Hy wat ons die krag gee om te volhard op hierdie pad. Dit is Hy wat ons pad voorspoedig maak. Hy gee alles wat ons nodig het om te lewe, om vrede en blydskap te ervaar terwyl ons saam met Hom reis.

Die lewenspad het soms groot uitdagings. Hoë plekke is plekke van uitdaging, waar geloof getoets word. Ons het daaroor gelees in Psalm 121. Dit verg baie inspanning en uithouvermoë om bo uit te kom. Die pad boontoe is nie sonder risiko nie. Maar teen die berghange van my lewenspad uit maak die Here my voete soos dié van ‘n ribbok. Ek is vas van voet, ek sal nie struikel nie. Hy laat my daar op die hoë plekke veilig loop, al kyk ek dalk vas in die afgronde. Met die Here se hulp sien ek later nie meer die gevaar raak nie, kan ek in sy teenwoordigheid ontspan en die uitsig geniet!

Mag die Here ook vir jou help om jou lewe bymekaar te hou met sy krag. Mag jou reis voorspoedig wees. Mag jou voete vas en seker trap op die ongelyke paaie, en mag jy op hoë plekke God se teenwoordigheid ervaar!

Gebed: Here, soms is my lewensreis baie uitdagend. Daar is tye in my lewe waar die pad wat ek stap, onseker is, en gevaarlik voel. Lei my elke tree van die pad, dat ek voorspoedig mag wees in dit wat ek aanpak. Maak my voete soos dié van ‘n ribbok, en help my om U op die hoë plekke raak te sien. Amen.