Ewald Schmidt

Vir die koorleier. ‘n Psalm van Dawid. ‘n Lied. Aan U, o God, kom ‘n lofsang toe in Sion: geloftes moet betaal word aan U wat die gebed verhoor. Na U toe sal alle mense kom om hulle skuld te bely. Ons sondes het ons ingehaal, maar U maak ons daarvan vry. Dit gaan goed met die mens vir wie U uitkies en laat nader kom om in u tempel te bly. Laat ons die goeie dinge in u huis in oorvloed geniet, die goeie dinge in u heilige woning.” Psalm 65:1-5

Ons gesels hierdie maand oor ons lewe as ‘n pelgrimsreis. Psalm 65 is nie ‘n amptelike pelgrimslied nie. In hierdie Psalm is groot waarhede opgeteken wat ‘n pelgrim goed ken.

Wanneer ons op ‘n pelgrimstog vertrek, dan is dit so belangrik om lig te reis. As jy jou hele vrag bagasie self dra, dan tel elke gram wat jy minder hoef te dra sommer baie as die dag lank raak. Dawid se lied sing ook van mense wat op reis is, en uiteindelik in God se woning tuiskom. Op die lewensreis is daar bagasie wat neig om op te hoop, en ons uiteindelik tot stilstand te bring. Dawid noem dit die sonde wat ons inhaal. In Hebreërs 12:1 word die lewe as ‘n wedloop voorgestel, ook ‘n lewensreis. Daar word die sonde genoem as dit wat ons verstrik, dit wat ons verhinder om ons lewenswedloop suksesvol te voltooi. Sonde in ons lewe het die vermoë om belangrike verhoudings te vernietig. Ons is juis gemaak as verhoudingsmense, om in verhouding met God en ons naaste te lewe. Sonde is om daardie doel in ons lewe te mis.

Op ‘n pelgrimsreis, wanneer jy agterkom dat jy onnodig swaar dra aan goeters, leer jy om dit vinnig weg te gooi. Daar is so ‘n groot verligting as jou rugsak baie ligter word! Hoe maak ons met die onnodige bagasie waarvan ons bewus word op ons lewensreis? Dawid sê: Kom na die Here toe daarmee. Bely dit voor Hom! Gee dit met opregte berou vir die Here in gebed. En aanvaar sy vergifnis. Dawid sê: die Here maak ons vry van die sonde wat ons ingehaal het. Dan is daar sommer weer nuwe vreugde in ons verhouding met Hom, en kan ons met vrymoedigheid sy seën beleef, die “goeie dinge in u huis in oorvloed geniet …”

Sonde en die nagevolge daarvan kom verstrik ons op ons lewenspad. Ware berou en skuldbelydenis kom maak ons vry. Ons kan ons onnodige bagasie enige tyd by die Here kom los. Dan word die reis soveel lekkerder in die vryheid wat God gee!

Gebed: Here, u begeerte is om my waarlik vry te maak van alle onnodige bagasie wat ek saamsleep. Wys die dinge in my lewe vir my wat U nie eer nie. Help my om los te maak van al daardie dinge wat die verhouding met U en met my naaste skade aandoen. U begeer om my vry te maak, sodat ek uit die oorvloed van u seën kan lewe. Dankie vir u genade, Here! Dankie dat genade altyd groter as sonde is! Amen.