Ewald Schmidt

“’n Pelgrimslied. Kom, prys die Here, julle almal wat Hom dien, julle wat in die nag in die tempel van die Here staan! Hef julle hande in gebed op na die heiligdom en prys die Here! Mag die Here jou seën uit Sion, Hy wat hemel en aarde gemaak het.”  Psalm 134:1-3

Ons dink hierdie maand saam oor die lewe as ‘n pelgrimsreis. Hierdie is die laaste van die bundel pelgrimsliedere in die Psalms. Dit besing die pelgrim wat by sy eindbestemming aangekom het, hy het die tempel in Jerusalem bereik. Na ‘n lang reis, vol gevare en ontberinge, is die pelgrim waar hy wou wees. Dalk is hierdie sommer al die ervaring van die eerste aand toe die reisiger in Jerusalem aangekom het. Dit wat die pelgrim begeer het, was om in die tempel te kon staan, en daar die Here te aanbid. In die Ou Testament was dit ‘n belangrike gebedshouding om na die heiligdom te kyk, daar waar die verbondsark agter die voorhangsel in die allerheiligste deel van die tempel gestaan het. Dit was die simbool van God se teenwoordigheid by sy volk. Die pelgrim het sy hande in gebed opgehef na die Here toe, om daarmee die Here se grootheid en almag te erken. Om die Here te prys, beteken om Hom die regmatige plek in jou lewe te gee. Lofprysing is om jou eie afhanklikheid te besef, en in afhanklikheid aan God die troon van jou hart te gee. Wanneer ons God prys, erken ons wie Hy is. Dit kan met sang plaasvind. Rick Warren het dit mooi gestel dat lofprysing uiteindelik ‘n lewenswyse is, waarin ons afhanklik van die Here bly.

Die eerste deel van hierdie pelgrimslied verwoord ons behoefte op ons lewensreis om God se teenwoordigheid in my lewe te ervaar. Dit is nie meer nodig om God se teenwoordigheid in tempels te soek nie, ons Here Jesus het in Johannes 4 gesê die tempel van God is nou in die hart van die gelowige. Dit bly ‘n wonderlike ervaring om tot stilstand te kom, en bewus te raak dat ek voor die aangesig van die Here lewe. Hy is met my, elke tree van die pad. Hy is altyd net ‘n gebed ver.

Die pelgrimsliedere bundel sluit af met die seënbede dat die Here wat hemel en aarde gemaak het, die leser sal seën uit Sion. Op die pelgrimsreis van ons lewens is die Here elke tree van die pad saam met ons, besig om ons te seën. Hy gee vir ons die lewe, gesondheid, geleenthede, ons daaglikse brood, familie en vriende, en soveel meer. Ons het tyd nodig om stil te word in elke dag, en bewus te raak van God se teenwoordigheid. Op die lewensreis kom ek dan agter: ek is nie alleen nie. God is met my, en dit maak al die verskil.

Gebed:  Dankie Here dat U altyd net ‘n gebed ver van my af is. Dankie dat die Here wat hemel en aarde gemaak het, nog steeds in my belang stel, en my wil seën. Ek vergeet dit so maklik! Here, herriner my telkens weer aan u teenwoordigheid. Dan sal ek graag heilige hande wil ophef in gebed, en u Naam prys solank ek lewe. Amen.