Ewald Schmidt

“’n Pelgrimslied. Van Dawid. Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! Dit is soos reukolie, wat van die kop af in die baard afloop, af tot by die soom van sy klere. Dit is soos die dou van Hermonberg wat op die berge by Sion val. Waar broers so saam woon, gee skenk die Here sy seën: ‘n lang, lang lewe.” Psalm 133:1-3

In hierdie kort pelgrimslied word ‘n groot waarheid verkondig: niemand is gemaak om alleen op die lewenspad te wandel nie. In die Ou Testamentiese tye het families oor verskeie geslagte heen saam op een familieplaas gewoon. Dit was nodig om saam te staan, saam te werk, en mekaar te beskerm teen aanvalle van vyandige magte. Mense het mekaar se ondersteuning en hulp nodig gehad om in daardie tye te oorleef.  Maar van Kain en Abel se dae af was dit nie vanselfsprekend dat familie noodwendig goed met mekaar oor die weg kom nie. Van vroeg in die mensdom se geskiedenis af kan broers mekaar se vyande wees. Dit moet baie erg wees om nie jou broer te vertrou nie!

Wanneer broers egter in vrede saam woon, is hulle in staat om soveel meer te bereik deur samewerking. Prediker 4: 9 het hierdie wysheid verkondig: “twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp.”  Waar dit moeilik raak om met broers saam te leef, is wanneer iemand se sondige natuur in die pad staan van goeie verhoudings. Selfsug en jaloesie vernietig verhoudings. Maar wanneer broers mekaar dien, en saam werk, is hulle tot soveel meer in staat. Hierdie wysheid is verseker waar vir ons lewensreis:  ‘n familie wat omgee vir mekaar en saam staan, kan soveel meer bereik. Dit is ook waar van ons geestelike broers en susters. Ons is ook nie gemaak om op ons geestelike reis alleen reg te kom nie. Die Here het elkeen van ons toegerus met verskillende genadegawes, om mekaar te dien. Saam is ons die Liggaam van Christus, saam is ons tot soveel meer in staat as elkeen op ons eie. Gelowige mense wat saam werk, getuig van die seën van die Here.

Dit is mooi om te sien. Dawid gebruik twee beelde om te sê hoe heilig en mooi eensgesindheid is. Dit is soos die salwingsolie wat oor die pragtige kleed van die Hoëpriester loop. Dit is so verfrissend soos die dou van die Hermonberg. In ons dag sou ons dalk ander beelde kon gebruik om dit te beskryf, die betekenis is egter: eensgesindheid bring die Here se seën mee. Ons is tot soveel meer in staat wanneer ons saam werk, en mekaar help om suksesvol ons lewensreis aan te pak. Niemand is gemaak om alleen reg te kom nie.

Gebed: Here, dankie dat ek nie alleen my weg hoef te vind op my lewensreis nie. Dankie vir geestelike broers en susters wat saam met my op weg is. Dankie vir my familie, Here. Versterk ons familiebande om te getuig van u helpende hand. Gee my die wysheid en die krag dat ek ook saam met ander kan werk, om hulle te dien en hulle te help om hulle doelwitte in die lewe te bereik. Gee ons eensgesindheid in ons families, en in ons gemeentes, tot u eer! Amen