Ewald Schmidt

“‘n Pelgrimslied. Dink tog aan Dawid, Here, aan alles wat hy deurgemaak het, aan die eed wat hy teenoor die Here afgelê het, sy eed aan die magtige God van Jakob: Ek sal nie in my slaapkamer ingaan nie en nie op die bed wat vir my reggemaak is, gaan lê nie, ek sal my geen rus gun nie, en sal nie eens insluimer nie, totdat ek vir die Here ‘n plek gereed gemaak het het, ‘n woning vir die magtige God van Jakob!” Psalm 132:1-5

Elkeen van ons stap ‘n unieke pad saam met die Here deur ons lewe. Ons kan op hierdie lewenspad soms groot drome droom oor wat ons graag vir die Here wil doen. Hierdie lied vertel van Dawid se groot ambisie: Hy wou die Here eer deur vir Hom ‘n groot en indrukwekkende tempel te bou. Dawid wou dit so graag doen, en homself geen rus gun voor daardie droom waar word nie. Dit klink na so ‘n goeie plan, hoe sou dit dan tog teen die wil van die Here kon wees?

Maar die Here het anders vir Dawid beplan. Een van Dawid se nakomelinge sou die tempel later bou. Dit was vir die Here genoeg dat Dawid sy kind was, en die Here sou Dawid se nageslag laat heers- sy kroon sou deur die eeue heen bly skitter. Hierdie belofte sou waar word toe ons Here Jesus uit die nageslag van Dawid gebore is. Sy koningskap hou vir altyd.

Maar wat wil hierdie pelgrimslied dan vir ons leer? Die heel belangrikste ding is dat die Here ‘n wonderlike plan vir elkeen van ons se lewens het. Ons word geroep om onsself te wees, en met on vermoëns, gawes en talente die Here te dien. Dis wat die Here van ons vra.  Daar is so baie wonderlike dinge om te doen vir die Here in hierdie wêreld. Nie een van ons hoef al die wonderlike dinge alleen aan te pak nie. Dit is ‘n fout om jouself nie eers rus te gun om jou droom na te jaag wat jy vir die Here wil doen nie.

Dawid moes leer om te ontspan. Hy moes getrou bly aan sy eie roeping, deur ‘n goeie koning vir Israel te wees, wat die Here eer deur sy gehoorsaamheid. Dit sou Salomo se roeping wees om die tempel op Sionsberg te bou.

Ons fouteer dalk makliker na die ander kant toe. Baie gelowiges wil net bly rus en niks doen met hulle gawes nie. Hierdie lied vir die lewenspad moedig ons aan: stap saam met die Here jou pad. Vertrou op Hom om vir jou te wys hoe jy Hom kan eer. Doen jou bes om jou gawes nuttig te gebruik in diens van die Here, en jou naaste. Ontspan in die wete dat jy nie alleen verantwoordelik staan om die wêreld te verander nie. Doen jou deel met groot verantwoordelikheid.

Gebed: Here, baie dankie dat U ‘n baie spesiale roeping vir my lewe het. U het vir my ‘n unieke stel genadegawes gegee om U en my naaste mee te dien. Wys vir my wat ek kan doen om U te eer. Vul my met die krag van u Gees om met blydskap gehoorsaam te volg waar U my lei. Amen