Ewald Schmidt

“‘n Pelgrimslied. Van Dawid. Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.” Psalm 131:1-2

Bekommernis is die siekte van ons tyd. Ons ervaar dat die lewe soms sulke hoë eise aan ons stel. Daar is so baie dinge wat groter is as wat ek kan hanteer. Ons mor maar saam oor die petrolprys, en ons ly saam onder die golf van misdaad in ons land. Ons is bekommerd oor die toekoms, ons wonder angstig of ons gereed is vir die pad wat voorlê.

God se kinders het in die geskiedenis al tye soos die Groot Depressie, Wêreldoorloë, die Spaanse griep, konsentrasiekampe oorleef. Daar is soms regtig omstandighede wat te groot vir my is om te hanteer. Wat maak ons daarmee?

Dawid het ‘n belangrike lewensles ontdek. In alle omstandighede moet ons onthou aan Wie ons behoort. Ons is God se kinders. Ons is gemaak om afhanklik van die Here te wees. Daarom pas selfverheffing nie by ons nie. Ek hoef nie belangrik te probeer lyk in die samelewing nie. Ek is kosbaar in God se oë, Hy het duur vir my aan ‘n kruis betaal. Ek is niks minder werd as enige iemand anders nie. Hoogmoed pas ook nie by my nie. Ek is niks meer werd as enige iemand anders in God se oë nie. Ek behoort aan die Here, en dit is is al wat belangrik is om oor my te sê.

As ons net eers kan ontdek dat ons maar afhanklik van die Here mag wees, maak dit ons las soveel ligter. Ek mag maar klein en nietig wees. Dis ‘n groot stap vorentoe om die wêreld en sy probleme in die Here se hande te los. Ek kan die wêreld nie reg bekommer nie. Ek kan nie alles self regmaak nie. Daarom moet ek leer om die groot dinge aan God toe te vertrou.

As ons dit kan regkry, gebruik Dawid ‘n pragtige beeld om ons pad vorentoe te verduidelik. Wanneer ek die Here so leer vertrou, is ek soos ‘n baba wat tevredenheid in sy moeder se arms gevind het. ‘n Baba mag dalk baie omgekrap raak oor ‘n vuil doek, of hongerpyne. Maar sy moeder sorg vir alle behoeftes. Dit bly so ‘n pragtige oomblik wanneer ‘n baba rustig in sy ma se arms aan die slaap raak. Mag ons ontdek dat God ‘n Vader is, wat weet wat ons nodig het nog voor ons dit vra. Jesus het dit gesê in Matteus 6:8. In Matteus 6:27 het Jesus gesê ons kan ons lewe nie met ‘n enkele uur verleng deur ons te bekommer nie.

Daarom, op die pelgrimsreis van ons lewe, moet ons leer om God te vertrou vir vandag se behoeftes. Los die groot dinge vir die Here. Dit maak die las soveel ligter!

Gebed: Here, dankie dat U beter as ek weet wat ek nodig het om voluit vir U te lewe. Leer my om op U te vertrou, en die groot dinge, die dinge bo my vermoë, rustig in u hande te los. Dankie vir u versorging in my lewe, dankie dat U getrou is. Amen