Ewald Schmidt

“‘n Pelgrimslied. Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep. As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan? Maar by U is daar vergifnis: daarom word U steeds gedien…” Psalm 130:1-4

Ons dink hierdie maand oor die beeld van my lewe as ‘n pelgrimsreis. Ek wat saam met die Here op reis is, al die dae van my lewe. Op ‘n pelgrimstog kry ‘n mens baie tyd om oor die lewe te dink. ‘n Mens kyk ook terug na die reis wat reeds afgelê is. Wanneer ons terugkyk oor ons lewe, was daar woestyntye, tye wat ons deur beproewing gegaan het. Dit was heel moontlik nie eers ons eie skuld nie, dit is maar die gevolg daarvan om in ‘n gebroke wêreld te lewe.

Vandag se pelgrimslied praat van ander tye van seer in ons lewe. Wanneer elkeen van ons terugkyk oor ons lewe, dan is daar ook dieptes en donkertes wat ons eerder sou wou vergeet. Hierdie dieptes is die gevolg van ons eie keuses, waar ons ongehoorsaam aan die Here was. Daar is geen mens sonder sonde nie. Elkeen van ons het al verkeerd gekies, verkeerd afgedraai langs die lewenspad. Elkeen van ons het al seergekry deur ons eie kop te volg.

Wanneer ‘n gelowige bewus raak daarvan dat hy verdwaal het, help dit nie om volspoed aan te hou op die verkeerde pad nie. Die skade word net al hoe groter. Roep na die Here! Vra Hom om jou op te tel waar jy geval het. Dis nie die Here se wil dat sy kind bly lê nie. Die Here het in elk geval klaar gestraf op die kruis op Golgota. God se Vaderhart maak dat Hy luister vir sy kind wat roep. Die Here begeer ‘n verhouding met ons, en daarom vergewe Hy waar ons ons skuld bely.

As sonde nie vergewe was nie, het ons tevergeefs probeer om God se pad te stap. Maar vers 4 beklemtoon weer: By die Here is daar vergifnis. Die Here gee so graag nuwe geleenthede vir sy kinders om op te staan, en saam met Hom die pad te stap. Daarom kan hierdie pelgrimslied die leser so oproep om die Here te vertrou vir al die genade wat ons nodig het. By die Here is daar troue liefde, en verlossing.

Is daar iets in jou verlede waaroor jy nog steeds skaam of skuldig voel? Hierdie lied nooi jou om dit vir die Here te gee. Jy kan verseker wees van God se genade. Die Here wil vergewe, dit is so seker soos die son wat more sal opkom, wil vers 6 vir ons sê. God se genade is groter as enige iets wat jy verkeerd kon doen in jou lewe. 

Gebed:  Here, U weet dat ek klein en nietig is. Ek volg so dikwels eerder my eie kop as om gehoorsaam aan U te wees. Daarom het ek ook al die dieptes van die lewenspad leer ken. Dankie dat U my nie daar wil los nie. Dankie dat U luister na my hulpgeroep. Dankie vir genade wat elke keer weer nuut is, omdat U ‘n Vader is wat omgee. Amen