Ewald Schmidt

“’n Pelgrimslied. Hulle het my van jongs af swaar verdruk, dit moet Israel sê, hulle het my van jongs af swaar verdruk, maar hulle kon my nie onderkry nie. Hulle het van my rug ‘n ploegland gemaak en daar lang vore op getrek. Die Here is regverdig, Hy het die bande losgesny waarmee die goddeloses my gebind het.” Psalm 129:1-4

Wanneer ons pelgrimsliedere lees, kan ‘n mens dink dat die lewensreis saam met die Here altyd net maklik sal wees. Vorige liedere het so mooi beskryf hoe die Here seën, en hoe daar voorspoed en vrede sal wees. Baie gelowiges kyk na die verhaal van hulle eie lewe, en wonder hoekom hulle reis so moeilik was. Israel se getuienis hier is dat hulle in die geskiedenis erg onder ander volke gely het, tye van slawerny in Egipte en ballingskap in Babilon kom eerste na vore. Vers 3 vertel van uiterste mishandeling, met gelowiges wat ervaar het dat hulle rue stukkend geslaan is. Wanneer mense in antieke tye gegesel is, het hulle rûe inderdaad soos ‘n ploegland gelyk. Slawe was stukkend geslaan deur die slawedrywers. Hierdie pelgrimslied verwoord so baie gelowiges se ervaring in hulle lewensreis. Sommiges kom uit agtergronde van onderdrukking, van erge mishandeling. Wanneer hierdie gelowiges terugkyk op hulle lewenspad is dit moeilike dinge om te verwerk. Met hierdie pelgrimslied word die seer van die verlede na die Here toe gebring.

Die ergste seerkry wat ‘n mens kan beleef, kom gewoonlik deur die toedoen van ander mense. Hierdie seerkry ervarings het die vermoë om die slagoffer in slawekettings toe te wikkel, en al hulle vreugde in die lewe te steel. So baie mense dra vir jare lank swaar aan die bondel seer van hulle verlede.

Vers 4 vertel waar die heling plaasvind, waar mense vry word. Op hierdie seer pad het die reisiger die Here ontmoet. Dit is waar die genesing begin. Dit is die Here wat sy volk keer op keer bevry het uit slawerny. Dit is Hy wat seer mense in sy arms toevou, en hulle wil genees. En dis net die Here wat waarlik vry kan maak, wat die kettings kan breek wat die seer rondom ons gewikkel het. Dit is Hy wat die gevangenes vry maak, die gebrokenes heel maak. Dit is Hy wat die seer van die verlede kan verander in hoop en vreugde vir die toekoms.

Die pelgrim leer om die vergelding in die Here se hande te los. Die Here sal die bose mense hanteer. Hulle sal soos gras wees wat op ‘n dak drooggemaak is, nog voordat dit kon uitspruit. Hulle dade sal onvrugbaar wees.

Wanneer jy terugkyk oor die seer tye van jou lewe, mag jy daar ook die genade van die Here raaksien. Mag dit ook jou ervaring wees dat die Here jou op jou punt van seer ontmoet het, en jou vrygemaak het van die kettings daarvan. Hy maak graag mense vry en heel, sodat hulle voluit, met vreugde kan lewe.

Gebed: Vader, so baie van ons worstel nog met seer ervarings van ons verlede. Dankie dat U raaksien, en dat U ons graag wil genees. Kom genees ons emosionele wonde, Here, maak ons vry dat ons voluit vir U kan lewe. Amen