Ewald Schmidt

“‘n Pelgrimslied. Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien, en sy wil doen. Die vrug van jou arbeid sal jy geniet, gelukkig en voorspoedig sal jy wees.”  Psalm 128:1-2

Mense mag dalk verskillende redes hê waarom hulle op ‘n pelgrimstog vertrek. Elkeen wil graag gelukkig wees, elkeen wil die Here se seën ervaar. Wanneer die pelgrim op sy reis vertrek, het priesters hulle met hierdie lied se woorde geseën: Mag jy ontdek dat God saam met jou reis, elke tree van die pad.

Die lied begin met ‘n groot stelling: Dit gaan goed met dié mens wat die Here dien, en gehoorsaam volg waar die Here lei. Die seën is bedoel vir mense wat besef hoe afhanklik hulle van die Here is. Wanneer jy die Here wil eer in alles wat jy doen, sal jou arbeid geseënd wees. Dit wat jy doen, maak ‘n verskil. Daarom ervaar jy dat jou lewe betekenis het, dit maak jou gelukkig. Omdat jy die Here toelaat om jou te lei, en jou te vorm soos Hy jou wil hê, raak dit ook jou huwelikslewe. In die Ou Testament se tye was die seën van die Here gesien in ‘n lang lewe, en om sommer baie kinders te hê.

Hierdie lied is ook gebruik as seënbede wanneer die pelgrim by sy bestemming aankom. Die seën van die Here uit Sion is met jou. Die voorspoed van Jerusalem is maar ‘n beeld om te sê: mag jou reis ‘n wonderlike eindbestemming bereik, mag daar vrede en voorspoed op jou wag.

Wat maak ons met hierdie Psalm vandag? Dit is verseker so dat die meeste van ons op die oomblik in uitdagende tye lewe. Ons sou maklik kon vra: waar is die seën van die Here vandag? Baie mense leef dalk op die oomblik in woestyntye van hulle lewe se pelgrimsreis. Hierdie pelgrimslied wil ons verseker: God is met ons op pad. Die geluk wat ons in die lewe ervaar lê nie altyd in geld nie. Ook in uitdagende tye lei die Here ons deur hierdie tye heen, en sorg vir sy kinders op maniere wat nie altyd op bankstate sin maak nie. Hierdie Psalm is juis ‘n gebed vir jou wat die Here wil dien: mag Hy jou seën dat jy die vrug van jou arbeid sal geniet. Mag jy gelukkig wees in hierdie deurmekaar wêreld. Mag jy voorspoedig wees, mag die Here jou die geleenthede gee wat jy nodig het om voluit vir Hom te lewe. En mag jou verhoudingslewe getuig van die vrede en die geluk wat die Here graag gee.

Gebed: Here, elke mens se diepste behoefte is om waarlik gelukkig te wees. Help ons om die lewe se geluk te ontdek wanneer ons ons lewenspad saam met U stap. Here, maak asseblief hierdie beloftes ook in u kind se lewe waar vandag. Mag u kind ervaar dat U die vrug op elkeen se arbeid gee. Mag u kinders gelukkig wees, en voorspoedig in dit wat hulle aanpak. Ons bid dit veral vir u kinders wat vandag in moeilike tye verkeer. Amen