Ewald Schmidt

“‘n Pelgrimslied. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan te maak. Vir dié wat die Here liefhet, gee die Here dit in hulle slaap …” Psalm 127:1-2

Iemand het op ‘n dag opgemerk dat hy sy hele loopbaan hard daaraan gewerk het om die leer van sukses uit te klim. Toe hy amper bo uitkom, het hy eers agtergekom dat die leer teen die verkeerde muur staan.

Die vraag in hierdie lied is; wat maak jou gelukkig? Wat gee jou vrede?

In die wêreld waarin ons vandag lewe, word lewensgeluk dikwels gemeet deur status en besittings. Ek moet hard werk, swoeg en sweet, om ‘n sukses van my lewe te maak. In my soeke na geluk begin so baie van my drome met die woorde “as ek eers…” . Ek moet dit laat gebeur. Dit plaas baie druk op my om te bly presteer.

Baie mense wat hard werk, is steeds nie gelukkige mense nie. Die wêreld waarin ons leef stel sulke hoë eise aan elkeen. Op ‘n dag kom baie mense agter: my leer staan ook teen die verkeerde muur. Ek werk hard, ek hardloop rond, maar dit voel asof ek nêrens heen op pad is nie. In die pelgrimstog van die lewe is dit ook ‘n goeie tyd om jou padkaart weer uit te haal, en jou koers weer noukeurig te meet. Waarheen is ek op pad?

Vir die gelowige is daar ‘n alternatief. Die sukses van my lewe word nie gemeet in wat ek besit nie, maar in wie ek is. Ek behoort tog aan die Here, en Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. Ek hoef niks te doen om sy goedkeuring te verdien nie, deur sy genade is ek mos sy kind. Ek is reeds gelukkig in my verhouding met Hom, vandag. Omdat ek bewus is van sy seën, begin ek eerder vra hoe ek my tyd, my aandag, my gawes en talente kan gebruik om Hom en my naaste te dien. Dit wat ek vir die Here doen, is geseënd. Ek sal die vrug op my arbeid geniet. Ek sal voorspoedig wees.

Hierdie diepe innerlike geluk gebeur wanneer ‘n mens se lewe in harmonie met God se plan vir my is.

Gebed: Here, ek swoeg tevergeefs as ek op die verkeerde fondament my lewe bou. Wanneer U my fondament is, dan bou U saam! Daarom gee ek vandag my drome en planne in u hand oor. Lei my op u pad, tot die eer van u Naam. Om saam met U te reis, maak my werklik gelukkig! Amen