Ewald Schmidt

“'n Pelgrimslied. Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos ‘n droom. Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê; die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen. Die Here hét groot dinge aan ons gedoen, ons was bly.” Psalm 126:1-3

Hierdie Pelgrimslied word beskryf as ‘n volksklaaglied. Die omstandighede waarin die Here se kinders verkeer wanneer hulle hierdie lied sing, is baie moeilik. Daar word van ‘n groot natuurramp gepraat, waar droogte die gelowiges se lewe bedreig. Vandag se ervaring in my lewe kan dalk baie moeilik wees. Alles werk nie uit soos ek dit beplan het nie. Daar is dalk dinge wat vandag groot seer veroorsaak. Op die pelgrimsreis van die lewe is dit noodsaaklik om tot stilstand te kom wanneer vandag nie meer hanteerbaar voel nie. In sulke moeilike dae is dit so belangrik om kalm te bly, en jou kommer in gebed voor die Here se voete te gaan neerlê.

Wanneer die pelgrim se ervaring van vandag moeilik is, dan kyk hy gelowig terug na gister. Die verlede is vol van die reddingsdade wat God vir sy kinders gedoen het. Hierdie psalm is waarskynlik na die Babiloniese ballingskap geskryf, toe die bannelinge toegelaat is om terug te keer na Juda, en hulle lewens te gaan herbou. Daar was groot dankbaarheid, en dit is beleef as die Here se magtige reddingsdade wat sy kinders weer verlos het uit slawerny. Hierdie tyd word onthou as ‘n tyd van lag en sang. Die verlede vertel van goeie tye, omdat die Here uitkoms gebring het in nood.

Geen lewenspad is egter net maklik nie. Daar het moeilike tye ingetree na die ballingskap, daar was groot droogte, en die ekonomie het baie gesukkel om weer op dreef te kom. Daarom begin die kinders van die Here in vers 4 om te bid, en vir die Here te smeek om hulle lot weer ‘n keer te verander. In die verskriklike droogte is hulle versoek dat die Suidland se droë spruite weer in waterstrome sal verander. Waar daar vrees is om te saai, en met trane gesaai word, is die geloofsverwagting dat die Here se kinders met vreugde die oes sal inbring.

Op die pelgrimsreis van ons lewe is daar soveel getuienis van die Here se goedheid in die verlede. Die ervaring van vandag mag uiters moeilik wees. Daar is steeds groot droogte in dele van Suid-Afrika, en so baie spanning rondom grond en ekonomie. Mag ons biddend en in geloof vorentoe gaan op ons lewenspad. Mag daar ‘n goeie oes wees, en ‘n toekoms waarin ons kan lag en sing.

Gebed: Here, ook hier by ons is dit moeilik om vanjaar te plant. Daar is soveel onsekerheid rondom ons landbou, ons ekonomie maak ons ook baie bekommerd. Verander asseblief ook ons lot in Suid- Afrika, dat die land weer ‘n oes sal lewer, dat ons ekonomie weer sal draai, en dat ons land se mense u seën weer mag beleef. Amen.