Ewald Schmidt

“’n Pelgrimslied. Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan. Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd.” Psalm 125:1-2

Onthou dat hierdie ‘n Pelgrimslied is. ‘n Gelowige het sy normale, alledaagse lewe tydelik agter gelos. Hy het op ‘n reis vertrek wat deur gevaarlike gebied gegaan het. Vyande kon enige tyd aanval, en misdadigers kon lokvalle stel langs die pad. Psalm 125 bevat die gevaar in die agtergrond van mense wat nie die Here se pad bewandel nie. Hulle bose planne bedreig die kind van God se lewe. Waarin gaan die pelgrim vaskyk? Die gevare wat daar langs die pad gaan wees? Of die beskerming wat van die Here af gevra word vir die lewensreis?

Tydens ‘n pelgrimstog kry ‘n mens die geleentheid om diep oor jou lewe na te dink. Psalm 125 vra dat die gelowige weer die fondament van sy lewe ondersoek. Ons word genooi om die Here te vertrou. Sionsberg troon bo Jerusalem uit, daar waar die tempel gebou is. Dit lyk rotsvas en onwankelbaar. Psalm 125 sê: So rotsvas en onwankelbaar soos Sionsberg lyk, so vas en seker is die Here die fondament van sy kind se lewe.

Ervaar jy ander gevaar op die lewensreis? Soos die pelgrim nader aan Jerusalem kom, sien hy die berge rondom Jerusalem raak. Hulle bied beskerming teen ekstreme weerstoestande, en maak dit moeiliker vir vyandige weermagte om aan te val. Net so beskerm die Here sy volk vir altyd. Soos berge die stad omvou, so vou die Here se arms beskermend om sy kinders.

Die beskerming van die Here gebeur in hierdie wêreld, ten midde van onrus onder die nasies. Ons leef steeds in ‘n stukkende wêreld, vol uitdagings. Ons kan nie altyd beheer wat rondom ons gebeur nie. In alle omstandighede behou ons egter die keuse hoe ons gaan reageer. Om in vrees te bly lewe, is nie God se plan vir ons nie. As pelgrims op die lewensreis vra Psalm 125 van ons om ons vertroue in die Here se beskerming te plaas. Ons begeer om met die vrede van die Here elke tree van ons lewenspad te stap.

Ja, ons voel nie altyd veilig nie. Ons voel soms magteloos en uitgelewer aan misdadigers se wreedheid. Vers 4 maak dit ‘n gebedsaak, waar die Here gevra word om goed te doen aan sy kinders. Met hierdie Psalm bid ons om die Here se beskerming, dat hy sy kind sal omring soos die berge rondom Jerusalem.

Gebed: Here, my lewenspad loop soms deur plekke wat gevaarlik is. Daar is soveel misdaad en  boosheid rondom my. Maar ek wil nie daarin bly vaskyk en met vrees lewe nie. Ek wil my vertroue in U stel, ek wil ervaar hoe u arms om my vou om my en my geliefdes te beskerm, net soos die berge Jerusalem omring. Mag ons land en ons mense weer vrede ervaar! Amen