Ewald Schmidt

“’n Pelgrimslied. Van Dawid. As die Here ons nie gehelp het nie, dit moet Israel bely, as die Here ons nie gehelp het nie… dan het die skuimende waters ons oorweldig… Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” Psalm 124:1,5,8

‘n Gedeelte van Dawid se pelgrimsreis deur die lewe is reeds agter die rug. Wanneer ‘n mens op ‘n pelgrimstog wandel, dan gebeur dit gereeld dat jy van die pad aftrek, en reflekteer. Een van die belangrikste vrae wat ons op ‘n pelgrimstog vra, is: “Waar kom ek vandaan? Hoe het ek tot hier gekom?” Dit is gewoonlik ‘n tyd van beproewing, of ‘n geestelike nood wat jou in beweging gebring het om op ‘n pelgrimstog te vertrek. ‘n Mens het tyd nodig om die gebeure in jou lewe te oordink, om sin daarvan te maak, voordat ‘n mens die volgende skof aanpak.

Wanneer Dawid so reflekteer oor die verlede van sy lewenspad as koning van Israel, dan sien hy groot gevaar wat in die verlede opgeduik het. Daar was mense wat hom, of sy volk aangeval het. Hierdie vyand was magtig, so sterk dat hy in staat was om spreekwoordelik sy slagoffers lewendig te verslind. Dit was soos die ervaring van vloedwaters wat mense meesleur en wegspoel. Die pelgrim maak op sy reis soms tye deur wat oorweldigend is, waar groot gevaar of groot uitdagings tot die uiterste toe beproef. Ek en jy ken dit ook, soms voel die uitdagings in ons lewe te groot om te oorwin.

Maar die pelgrim, wanneer hy terugkyk oor sy reis, sien die hand van die Here in sy verlede raak. Hy gee in vers 6 aan die Here al die lof vir sy redding. Die Here laat nie toe dat sy kinders prooi word nie, en bevry hulle soos voëls wat uit die voëlvanger se wip ontsnap. Die pelgrim kyk terug, en sien die geskiedenis van God se verlossing raak, hoe die Here telkens getrou was en sy kinders gered het. Daarom vertrou die pelgrim weer nuut op die Here – dit is Hy wat hemel en aarde gemaak het! As Hy dìt kon doen, dan kan die Here my help op die pad van die toekoms.

Om God se redding in die verlede raak te sien, vul ons met hoop om die toekoms met nuwe energie aan te pak.

Gebed: Here, die verlede getuig keer op keer hoe U u kinders red. Ons vertrou U as die God wat hemel en aarde geskape het, en daarom plaas ons ons toekoms in u veilige hande. My hulp kom van die Here af! Amen