Op my lewensreis kyk ek uit vir die hand van die Here - 7 September 2018

Ewald Schmidt

“Ek sien na U op, U wat uit die hemel heers. Soos die oë van ‘n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van ‘n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm.”  Psalm 123:1-2

Wanneer ‘n mens op ‘n lang pelgrimsreis wandel, dan verstaan jou hart hierdie Pelgrimslied so goed. In die lang dae waar jy aan wind en weer blootgestel word, waar jy soms seer het en moedeloos voel, begin jou oë opwaarts kyk om hulp. ‘n Pelgrimstog maak jou nederig. Jy begin besef dat jou eie menslike vermoë ook maar net so ver strek. Jou eie kragte hou net so lank. Die rede waarom ‘n mens ‘n pelgrimstog aanpak, is tog juis om terug te keer na die heel basiese vorm van menslike bestaan. In die ontdekking van my eie nietigheid, en in die proses waar ek my lewe se probleme in die oë staar, begin die sin van my bestaan ook al meer die fokus word van die reis.

Vir gelowige mense is daar ‘n groot stuk vryheid daarin om te ontdek dat ek aan die Here behoort. God kry sy regmatige plek in my lewe volgens hierdie mooi pelgrimslied, waar erken word dat Hy baie groter as ek is, en dat ek maar na Hom mag opkyk. Ek erken sy heerskappy uit die hemel, ook oor my lewe. As Hy dan Here van my lewe is, dan wil ek so graag oorgee dat Hy Here mag wees van elke deel van my bestaan. Dis waar die beeld van ‘n slaaf of slavin so treffend is. ‘n Slaaf in antieke tye het totaal aan sy eienaar behoort. Die slaaf se hele lewe was daarop ingestel om sy eienaar se wil te doen. Met hierdie pelgrimslied het die geloofsreisiger gesê: Ek behoort aan die Here, ek kies om in gehoorsaamheid te volg waar Hy my lei. Die reis is nie maklik nie, daar is veragting en spot van “oormoedige mense.” Die pelgrim kies om eerder die Here te volg, as om afgesit te word deur die spot van mense.

Op die pelgrimsreis van die lewe vra hierdie pelgrimslied dat ons oë op die Here gerig sal bly. Dit vra gehoorsaamheid, afhanklikheid, nederigheid. Op hierdie pad vind ek rus, en innerlike vrede in die ontferming van die Here.

Gebed: Hemelse Vader, die lewe se reis is soms maar moeilik. Ek staan soveel keer verleë wanneer ek my eie kop volg, of wanneer my oë bly vaskyk in die probleme wat ek ervaar. Help my om u hand raak te sien, wat my wil lei om die regte keuses te maak. Lei my waar U my wil hê, want ek behoort aan U. Amen

Go to top