Ewald Schmidt

“Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here toe.’… Bid dat Jerusalem vrede mag hê, dat hulle wat hom liefhet, rustig mag woon.”  Psalm 122:1,6 (1983-vertaling)

In hierdie Sionslied is een pelgrim besig om namens ‘n groep te praat. Hulle is saam op reis na die tempel in Jerusalem, om daar te gaan deelneem aan ‘n godsdienstige fees. Die Sionsliedere (Psalm 46, 48, 76, 84, 87 en 122) besing Jerusalem as dié plek waar die Here se huis tussen sy mense staan. In Psalm 122 is daar groot blydskap wanneer pelgrims Jerusalem bereik, om daar die Naam van die Here by die tempel te loof.

Jerusalem was dwarsdeur die geskiedenis maar ‘n onstabiele plek. Vanweë die strategiese posisie van Israel, op die kruispunt tussen handelsroetes uit Afrika, Asië en Europa wat daar bymekaar kom, was dit hoog op elke wêreldryk se wenslys om te beheer. Deur meer as drie millenia se geskiedenis het Jerusalem baie oorlog gesien, en baie trane beleef.

Teenoor die geskiedenis van konflik en spanning het pelgrims die behoefte gehad om na ‘n vreedsame eindbestemming te reis. Pelgrims wou in vrede die Here gaan ontmoet by sy tempel op Sionsberg, wat bo Jerusalem uittroon. Hierdie Psalm roep gelowiges deur die eeue op om te bid vir vrede in Jerusalem, harmonie tussen mense wat daar saamkom. Selfs vandag is hierdie oproep om te bid vir vrede in Jerusalem so noodsaaklik. Daar is steeds soveel konflik en haat tussen verskillende groepe mense in Jerusalem. Mag daar vrede kom!

Terselfdertyd mag ons dit ook vir ons bestemmings op ons lewensreis toebid. Ook in Suid-Afrika is daar so ‘n groot behoefte aan vrede tussen verskillende groepe mense wat saam hier woon. Dit bly so gepas om te bid dat daar rus sal kom in die wonings van Suid-Afrika, dat ons broers en vriende in vrede saam mag woon hier waar die Here ons geplaas het. Mag ons soos hierdie oorspronklike pelgrims mekaar aanspoor om vir vrede te bly bid in ons land. Wanneer ons bid vir vrede en rus in ons land, dan roep dit ons ook op om vrede aktief te bevorder.

Gebed: Here, in hierdie wêreld is daar soveel brandpunte, waar haat en konflik tussen mense nog welig groei. Saam met die kerk oor die eeue heen wil ek saam bid vir die vrede in Jerusalem. Mag daar rus in die wonings van Jerusalem kom, mag daar vrede binne die mure wees. Maar nie net vir Jerusalem nie, Here, doen dit ook vir die plek waar ek woon. Mag u vrede en u rus ook my leefwêreld kom verander tot u eer. Gebruik my as ‘n vredemaker waar ek ook al my lewenspad as pelgrim stap. Amen.