Ewald Schmidt

“Ek kyk op na die berge, waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here, wat hemel en aarde gemaak het …” Psalm 121:1-2

‘n Mens worstel met Psalm 121, veral as jy self die afgelope paar maande deur verskeie traumatiese insidente geraak is. Ek dink nie die pelgrim was enigsins onder die indruk dat die lewenspad net maklik is nie. Ek dink ook nie dit belowe dat ons as God se kinders nooit weer beproewinge sal ervaar nie.

Inteendeel, die pelgrim is bewus van die berge op die pad. Dit is in die berge waar die rowersbendes skuil, waar die wilde diere hul prooi bekruip. Berge vermoei die stapper, dit laat elke las wat gedra word, nog swaarder voel. In die berge struikel jy maklik, kan jy so maklik jou voet beseer. In Afrikaans sê ons mos ‘n moeilike ding wat ons moet oorwin, lê soos ‘n berg voor my. Berge op my pad maak my reis stadiger as wat ek beplan het. Hulle bied groot uitdagings. Soos ek van ‘n berg bewus word op die horison wat al nader kom met elke tree, begin ek my eie vermoë om dit te hanteer, bevraagteken. Die pelgrim sien die berg nader kom en vra: Sal ek dit kan oorwin? Dan kom die antwoord in geloof: My hulp kom van die Here. Die Here is groter as hierdie berg, want Hy het hemel en aarde gemaak. As God dan magtig is om wêrelde te skep, dan is my berg nie ‘n probleem vir Hom nie. Met God se hulp kan ek enige berg op my lewenspad oorwin.

Die pelgrim getuig dat die Here elke tree van die lewenspad saam met sy kind reis, altyd waaksaam, besig om sy kind te beskerm. My lewe is veilig in my God se hande. Geen gevaar in hierdie lewe sal my uit sy hand ruk nie. Paulus sou dit jare later weer bevestig in Romeine 8:38 selfs die dood sal ons nie uit sy hand ruk nie. Psalm 121 wil vandag sê: God is saam met my op reis. Vandag se berge op my lewenspad is hanteerbaar, want my hulp kom van die Here.

Gebed:  Here, ek leef in ‘n gevaarlike wêreld. Soms is daar groot uitdagings voor my, soos berge op my lewenspad. Dankie dat ek altyd op u hulp en u beskerming kan staat maak. Gee my die krag wat ek nodig het om elke berg uit te klim, en bo te kan uitroep dat my hulp van U alleen gekom het. Amen