Ewald Schmidt

“In my nood het ek na die Here geroep, en Hy het my gebed verhoor…”  Psalm 120:1

Ons begin vandag lees aan die Pelgrimspsalms, wat van Psalm 120-134 opgeteken staan. Pelgrimsliedere is gesing wanneer geloofsreisigers vertrek het op ‘n geestelike reis. Die bestemming van ‘n pelgrimsreis in die Ou Testament was die tempel in Jerusalem, om daar die Here te ontmoet. 

Een van die kenmerke van ‘n pelgrimsreis is die ervaring van vreemdelingskap. Die pelgrim reis deur ‘n wêreld waarin hy nie tuis voel nie. Maar hy bly op reis, soekend na die Here se uitkoms in sy lewe. Geleerdes wonder waarom Psalm 120 onder die Pelgrimsliedere gebundel word.  Tog hoort dit daar. Die Psalm getuig van die skrywer se ongemak met die plekke waar hy al moes woon op sy reis. Dit lyk asof hierdie Psalm uit die tyd na die Ballingskap kom, die Diaspora tyd. Israel se mense is oor ‘n wye gebied versprei, en ervaar dat hulle vreemdelinge is. Die pelgrim noem twee plekke waar hy baie ontuis gevoel het in vers 6. Mesek is uit die nageslag van Jafet volgens Genesis 10:2, en die gebied is vermoedelik tussen die Swart See en die Kaspiese See. Kedar is in Arabië, nageslag van Ismael volgens Genesis 25:13. Hierdie plekke is baie ver uitmekaar, dalk verwoord die pelgrim eerder die universele ervaring van vreemdelingskap. Hy ervaar dat hy tussen bedriërs en leuenaars woon (vers 2). Waar hy ‘n man van vrede is, beplan die nasie rondom hom oorlog (vers 6).

Vanuit sy vreemdelingskap, en sy ongemak in die omstandighede waar hy vandaan kom, roep die pelgrim na die Here om hulp. Sy getuienis is dat die Here hom gehoor het, en dat die Here sy gebed beantwoord het. Die man wat vrede gesoek het, het dit gevind. 

Die wêreld waarin ons vandag lewe, laat ons ook ongemaklik voel wanneer daar soveel praatjies van oorlog en haat is. Ons roep na die Here om vrede te bring. Mag Hy ons gebede antwoord, en sy vrede gee!

Gebed:  Here, rondom my is ‘n wêreld waar vrede skaars is, en haat welig groei. Vul my met u vrede, en maak my dan ‘n kanaal van u liefde na die wêreld rondom my. Amen