Ewald Schmidt

“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie…  Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.”  Psalm 23:1,3

Die gelowige se lewe word op verskeie plekke in die Bybel uitgebeeld as ‘n pelgrimsreis. ‘n Pelgrim is iemand wat ‘n geestelike reis onderneem. Daar was 'n ervaring dat God ons geroep het om Hom te volg. Hy reis saam met ons op ons lewenspad, totdat ons eendag by ons eindbestemming aankom. Dawid sluit by hierdie tradisie aan wanneer hy die Here sy herder noem in Psalm 23. Sy getuienis is dat die Here voorsien in die middele en die krag wat nodig is om die lewenspad enduit te voltooi.

Pelgrimstogte het weer baie gewild geword in ons leeftyd. Mense gaan stap die Camino de Santiago, die Pacific Crest Trail en vele ander as 'n manier om hul eie lewensreis meer verstaanbaar te maak. In die pelgrimstog beleef die stapper die ontberinge van die reis, maar ook die voorsiening in elke dag se behoeftes. Groot lewenslesse word geleer deur bewus te raak van die oomblik, en my onmiddellike omgewing. Dankbaarheid vul die pelgrim se hart wanneer daar in die kleinste blommetjie of koel sluk water in ‘n bergstroompie genade raakgesien word. Dit is juis die doel van die pelgrimstog: om weer net te wéés. Om soos Dawid na my lewe te kan kyk, en te getuig: ek kom niks kort nie! Die Here sorg vir my, Hy lei my, Hy gee die krag wat ek nodig het om my lewensreis sinvol aan te pak.

Van Psalm 120-134 is ‘n versameling Pelgrimsliedere in die Bybel opgeteken. Liedere wat gesing is wanneer pelgrims op reis was na 'n eindbestemming. Hierdie maand gaan ons liedere oor ons lewensreis sing. Soms raak ons so vasgevang in die alledaagse sleur van die lewe. Mag ons met pelgrimsliedere net weer tot stilstand kom langs ons lewenspad, en vir ‘n oomblik onthou wie ons is, en aan Wie ons behoort. Mag u soos Dawid ontdek: God is met my op reis, ek kom niks kort nie!

Gebed: Here, baie dankie dat U aan my die geskenk van die lewe gegee het. Baie dankie vir die mooi in elke dag. Maak my oë opnuut weer oop om u goedheid raak te sien in die klein dingetjies van elke dag. Ek wil soos Dawid getuig: U is my herder, en daarom kom ek niks kort nie! Amen