Neville Turley

Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” Matteus 11:29-30

God gebruik sy kinders om sy koninkryk te laat groei. Jona was seker die onwilligste evangelis, en seker die enigste een wat kwaad was vir God omdat sy boodskap van dreigende uitwissing daartoe aanleiding gegee het dat die mense hulle sondes bely het en hulle vergewe is.

Jona, 'n effektiewe prediker het ook sy probleme gehad, net soos ons almal ook probleme het.

In elke geslag is daar predikers wat 'n belangrike rol het om die rigting na God vir mense aan te dui. Hulle kan egter nie besluite namens hulle hoorders neem nie. Net soos die mense van Nineve hulle tot God moes wend en Hom moes vra om hulle te vergewe, so moet elke individu dit ook doen. God hanteer elkeen van ons op 'n individuele vlak.

Wanneer jy Jesus as Saligmaker en Verlosser aangeneem het, het jy jou paspoort na die hemel. Niks kan dit ooit weer wegneem nie. Halleluja!

Jou menslike natuur verander egter nie onmiddellik nie, daardie proses neem langer. Die probleme wat jy voorheen gehad het, die versoekings wat jy beleef het, gaan jou steeds pla. Alhoewel die pad vorentoe dieselfde mag lyk, het jy verander. Jy is nou 'n nuwe mens in wie die Heilige Gees woon en werk. Hy is voortdurend besig om jou te help om al die probleme te oorkom en Hy is besig om jou na die beeld van Jesus Christus te vorm.

Daardie vormingsproses sal voortduur tot daardie heerlike dag wanneer die poorte van die hemel vir jou oopswaai en die Here jou tuis verwelkom.

Gebed: Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen. (Judas1:24-25)