Neville Turley

Jy moet diep in jou hart weet: soos 'n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer. Deuteronomium 8:5

God gee om vir Jona daar waar hy in sy selfgemaakte skerm sit. Om sy lot te verlig, laat God 'n plant groei om Jona teen die wind en die brandende son te beskerm. Jona was baie dankbaar vir die plant en die skaduwee wat dit gebring het.

Wat Jona egter nodig gehad het, was nie jammerte nie, maar wat ons vandag sal beskryf as "tough love" of dan liefde met dissipline.

Die volgende dag het God 'n wurm beveel om aan die plant te vreet en dit te vernietig. Jona was platgeslaan dat die plant gevrek het, en sake het nog erger geraak. "Toe die son opkom, het God 'n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: “Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe.” (Jona 4:8)

Soos die storm wat bo sy kop opgesteek het toe Jona op die skip was wat uit Joppe geseil het, het die donker wolke van depressie nou sy verstand oorskadu en sy oordeel belemmer.

Jona was kwaad vir God omdat Hy Nineve gespaar het. Die Israeliete het tog baie aan die hand van die wrede Assiriërs gely en Jona kon nie verstaan hoekom God in liefde na hulle uitgereik het nie.

Jona was nou nóg kwater vir God. God het toegelaat dat die wurm die plant vernietig wat vir Jona soveel troos gebring het. Weer eens moes die barmhartige Vader Jona streng berispe.

God sê vir Jona om sy prioriteite reg te kry en die groter prentjie in gedagte te hou. “Jy is besorg oor die komkommerplant … Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, 'n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?” (Jona 4:10-11)

Die oorhoofse tema in die boek Jona is God se barmhartigheid en sy besorgdheid dat alle mense Hom moet leer ken en in liefde aan Hom gehoorsaam moet wees.

Gebed: Hemelse Vader. U is die bron van alles wat goed is in ons lewens. Skenk aan ons die genade dat deur die Heilige Gees ons U mag ken en eer. In Jesus se Naam. Amen