Neville Turley

Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.  Matteus 5:7

Jona het 'n geestelike krisis beleef. Die Here het geweet hoe kwaad Jona was omdat die inwoners van Nineve nie gestraf is nie. Die Here het egter nie met Jona saamgestem nie, maar het hom eerder daarop gewys dat hy geen reg gehad het om kwaad te wees nie.

Jona het presies gedoen wat kindertjies so dikwels doen as hulle nie hulle sin kry nie – hy het dikmond eenkant gaan sit.

Hy het Nineve verlaat en buite die stadspoorte in die hitte gaan sit. Hy het vir hom 'n skuiling vir skadu gemaak en gewag om te sien wat met die stad gebeur.

Die almagtige God, die Here en Koning van die skepping is ook ons Vader. 'n Vader is iemand wat sy kinders baie liefhet en wat voortdurend vir hulle sorg en in hulle beste belang optree.

Toe Jona daar buite Nineve gesit het, dikmond en kwaad vir die Here, was dit God self wat in sy vaderlike liefde na hom uitgereik het.

God reik steeds in liefde uit na elke siel in sy koninkryk, en dit sluit jou en my in. Dit maak nie saak hoe seer ons Hom maak nie, Hy is barmhartig teenoor ons en Hy verwag dat ons ook barmhartigheid aan ander moet bewys.

Barmhartigheid is die vermoë om deernis, minsaamheid en troos te bewys aan diegene wat in nood verkeer. Dit is egter nie iets waarmee ons gebore word nie. Dit is 'n geskenk van die Heilige Gees en dit is iets wat ons regdeur ons lewens moet bevorder. (Romeine 12:18)

Gebed: Hemelse Vader, gee dat die Heilige Gees ons sal help om uit te reik na diegene wat swaarkry en dat ons hulle sal bystaan tot eer van u Naam. Amen