Neville Turley

Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende.  Psalm 37:8

Jona se woede teenoor God was verkeerd. Hy bely teenoor God dat hy weet God is liefde, genade en barmhartigheid, maar tog is hy kwaad omdat God se intensie toe Hy hom na Nineve gestuur het, nie was om die mense te straf nie. God het 'n reaksie van liefde en gehoorsaamheid van die mense van Nineve verlang, sodat hulle sonde vergewe kon word.

Jona was oortuig dat die inwoners van Nineve gestraf moes word. Hy, op die instruksies van God, het na Nineve gegaan om aan hulle te vertel wat met hulle sou gebeur en nou het God hulle vergewe.

Sy een profesie aan hulle is nou verkeerd bewys en Jona kon nie die skade aan sy ego hanteer nie. Hy het gewens hy was eerder dood.

In die magskringe in ons eie samelewing maak mense dikwels besluite wat hulle nie op hulle vlak gemagtig is om te maak nie. Wanneer hierdie besluite bevraagteken word, is hulle dikwels seergemaak en voel hulle dat hulle te nagekom word.

Jona was in 'n soortgelyke posisie. Hy was God se boodskapper, nie God nie. Jona se lot was volkome in God se hande.

Jona moes nog aanvaar dat God 'n meesterplan het waarin elkeen van ons 'n spesifieke rol het om te vertolk.

Jona het 'n belangrike rol vervul deur die mense te oortuig om 'n lewe in diens van God te leef. Eeue later het ons Here Jesus Christus die bose en goddelose mense van sy tyd tereggewys deur dit wat Jona gedoen het te erken. "Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!" (Matteus 12:41)

God is almagtig, maar mense is nie robotte nie, hulle het 'n vrye wil. So dit is moontlik vir ons om in 'n oomblik van woede dieselfde te doen as wat Jona gedoen het – teen God te rebelleer en ons woede te wys.

Die beste manier om God se plan vir ons lewens te ken, is nie om sake in ons eie hande te neem nie, maar om nederig elke dag sy wil te soek. Hy sal vir ons die weg wys.

Gebed: Hemelse Vader, help ons om altyd u liefde vir alle mense te verstaan. In die Naam van Jesus vra ons dit. Amen