Neville Turley

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. … En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’  Matteus 22:37,39

Stel jou voor die blydskap onder die inwoners van Nineve. Hulle het uitwissing in die gesig gestaar, 'n lot wat hulle wel deeglik besef het hulle verdien het. Hulle was desperaat en het hulle tot God gewend. Die Here het hulle gebede beantwoord en hulle sonde vergewe.

Die sperdatum dat hulle en hulle gesinne binne 40 dae uitgewis sou word, het nie langer gegeld nie. Die lewe kon weer aangaan. Almal, behalwe Jona, was gelukkig.

Hy was woedend. Toe bid hy tot God. Dit was nie 'n gebed om God te loof en te prys nie, dit was die teenoorgestelde. Hy was kwaad vir God.

In die laaste hoofstuk van die boek ontdek ons hoekom Jona ongehoorsaam was aan die Here en hoekom hy probeer het om weg te vlug na Spanje. Dit was omdat hy geweet het God gaan nie regtig die mense van Nineve straf nie. (Jona 4:2)

Jona het dieselfde fout gemaak wat baie van ons vandag steeds maak. Ons verlaag die Almagtige God tot ons vlak. Wanneer iets slegs gebeur wat ons nie kan verklaar nie, blameer ons God vir ons probleem. Dit is tragies dat baie mense wat 'n geliefde aan die dood afstaan, in hulle woede God vir hulle pyn en verlies blameer en Hom verwerp.

Die sonde van woede heers in ons samelewing soos 'n suur wat alles verteer. Ons sien dit wanneer mense aangevuur deur jaloesie en gierigheid so kwaad en ongeduldig vir mekaar word dat dit oorgaan in protesaksies, argumente, skeltaal, misdaad en selfs moord.

Adam en Eva se oudste seun, Kain, is 'n klasieke voorbeeld van hoe woede 'n lewe kan vernietig. Kain was woedend toe die Here sy broer, Abel, se offer aangeneem het en syne verwerp het. Ten spyte van die Here se waarskuwing dat hy sy woede moet beheer, het hy Abel doodgemaak. Vir die res van sy lewe was Kain uit die teenwoordigheid van God verban en het hy 'n swerweling geword. (Genesis 4:1-17)

Wanneer ons nie aan die standaarde van ons vers vir vandag voldoen nie, sal woede in ons lewens koning kraai.

Gebed: Hemelse Vader, help ons deur u Heilige Gees om die woede in ons lewens met liefde te vervang. In Jesus se Naam bid ons dit. Amen