Neville Turley

U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.  Psalm 119:105

Jona se sending was voltooi toe God die inwoners van Nineve vergewe het. Hy het God se opdrag nagekom en die mense gewaarsku dat die stad verwoes gaan word. Jona se verhaal is in die Bybel opgeteken, en sal nooit vergeet word nie.

Volgens oorlewering het Jona tot met sy dood in Nineve aangebly en is hy op 'n heuweltjie nie ver buite die poorte van die stad Nineve begrawe nie. Jona se graf het 'n gewilde pelgrimsplek geword vir Christene, Jode en Moslems.

In 1226 is daar 'n moskee oor die graf gebou. Die graf van Jona was in die middel van die moskee wat na die profeet vernoem is. Die moskee was een van Irak se ikoniese monumente en gewild onder toeriste.

Op 24 Julie 2014 was militante van ISIS verantwoordelik vir gebeure wat mense wêreldwyd woedend gelaat het. Hulle het Jona se graf vol plofstof gelaai en dit, sowel as die moskee, opgeblaas.

In hulle soeke na artefakte om te roof en te verkoop, het ISIS tonnels gegrawe waar die graf was. Hulle vandalisme het uiteindelik tot 'n onverwagte ontdekking gelei.

Nadat die Irakkese soldate ISIS uit Mosul verdryf het, het argeoloë die skade gaan bepaal. Die tonnels wat ISIS gegrawe het in hulle soeke na buit, het die, tot nog toe, onontdekte paleis van koning Sanherib, ontbloot. Koning Sanherib het in die 7de eeu v.C. in Assirië geregeer.

In 2 Konings (hoofstuk 18-20) lees ons hoe God ingegryp het toe die koning op die punt was om Jerusalem te verower en sy inwoners te vernietig.

Met sy terugkeer na sy paleis na sy neerlaag, is hy deur twee van sy seuns vermoor. 'n Derde seun, Esarhaddon, het toe koning geword (2 Konings 19:37). Tablette met spykerskrif en voorwerpe wat te swaar was vir ISIS om te verwyder, het hierdie bybelse weergawe bevestig.

Die Bybel is waar en ons kan die woord van God vertrou.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u woord. Ons bid dat die Heilige Gees ons sal help om dit as 'n padkaart vir ons lewens te gebruik. In Jesus se Naam. Amen