Neville Turley

Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.  Jesaja 55:10-11

Met sy aankoms in Nineve het Jona 'n dag geneem om die stad te leer ken. Slegs toe het hy begin om die woord van God aan die mense te verkondig.

“Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!” (Jona 3:4)

Net vyf woorde in die Hebreeus en agt in die 1983-vertaling. Die boodskap was miskien heel eenvoudig en tog perfek. Dit het die inwoners van Nineve diep aangegryp en hulle het God gevra om hulle te vergewe.

Hulle het hulle bose dade laat vaar en begin om ernstig te bid, te vas en het rouklere aangetrek as 'n teken van hulle berou. Toe hulle koning die woord van God hoor het hy dit ook aanvaar en God om vergifnis gevra. Hy het ook 'n proklamasie uitgereik dat al sy onderdane by God om genade moet pleit. Toe die Here sien dat die inwoners van Nineve in Hom glo, het Hy in sy genade besluit om hulle nie te straf nie. Inteendeel, Hy het besluit om hulle sondes te vergewe.

Geloof kom deur God se woord te hoor en deur dit te glo. Jona was net een mens en tog het God hom gebruik om 'n koninkryk te bekeer.

Vandag gebruik die Here ons om sy woord na die nasies te neem. Daar is baie geleenthede beskikbaar om Hom te dien. Een so 'n manier is deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika wat vandag 198 jaar oud is.

Die Bybelgenootskap bestaan om die Woord van die Here te vertaal, te publiseer en te versprei. Dit is volkome afhanklik van gebede en vrywillige ondersteuning om te verseker dat daar genoeg Bybels beskikbaar is. Baie Vers-'n-Dag lede ondersteun die Bybelgenootskap deur sy Bybel-'n-Maand Klub. Deur spesifieke Bybelprogramme ondersteun klublede Bybelverspreiding daar waar dit die nodigste is. Soos Jona van ouds, help hierdie saaiers van hoop om die lig van die Woord te bring aan mense wat miskien nog in duisternis verkeer en op hierdie manier word God verheerlik.

Gebed: Almagtige God deur u Seun het daar lig in ons lewens gekom. Ons bid dat u Heilige Gees aan elkeen van ons die beste manier sal wys om die lig van u Woord te versprei. Amen