Neville Turley

U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.  Psalm 139:13

Soms plaas die Here 'n las op ons wat ons nie eintlik wil dra nie. 'n Belangrike verantwoordelikheid waarvoor ons nie kans sien nie. Dan vra ons dikwels, soos die geval met baie van sy kinders: "Hoekom ek, Here?"

Dit is 'n vraag wat Jona seker dikwels gevra het, van die tyd toe God hom geroep het om na die stad Nineve in Assirië te gaan. Die Jode en die Assiriërs het nie juis om dieselfde vuur gesit nie.

Jona wou nie die opdrag uitvoer om die Assiriërs te gaan waarsku dat die Here van al hulle sondes weet nie. Hy het geen begeerte gehad om na hulle uit te reik nie.

Sy pogings om dinge op sy eie manier te doen, het egter nie geslaag nie. Jona se weerstand het uiteindelik verkrummel en hy het God se opdrag gehoorsaam. Die woorde van die Psalmdigter: "Ek het die koers van my lewe oordink en na u verordeninge teruggekeer" (Psalm 119:59) kon ook op Jona betrekking gehad het.

Nineve was geleë op die oostelike oewer van die Tigrisrivier waar die stad Mosul in Irak vandag geleë is. Die Bybel vertel ons nie waar die vis Jona uitgespoeg het nie. Selfs al was dit aan die noordelike kus van die Middellandse See, was dit steeds 'n ver stap na Nineve. Baie tyd vir Jona om vir God te vra: "Hoekom ek, Here?"

Die antwoord op daardie vraag is in ons teksvers vir vandag. God het elkeen van ons as 'n individu gemaak. Ons DNS en ons vingerafdrukke is 'n bewys dat elkeen van ons absoluut uniek is. Daar is geen identiese mense op hierdie planeet nie. Daar was nog nooit en daar sal ook nooit wees nie.

Ons het wel almal iets in gemeen, ons is almal sondaars en nie werd om God se genade te ontvang nie. Tog, ons is spesiaal vir God, so spesiaal dat Hy sy Seun gestuur het om ons van ons sondes te verlos.

Deur Hom is ons deel van God se familie, maar met daardie wonderlike voorreg kom 'n ewe groot verantwoordelikheid. Ons moet alle uitdagings wat die lewe ons bied sonder vrae aanvaar en elkeen verwelkom as 'n geleentheid om ons God en Verlosser te dien.

Gebed: Hemelse Vader ons bid dat deur die Heilige Gees ons krag sal ontvang om in geloof te leef. In Jesus se Naam. Amen