Neville Turley

Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.  Jesaja 44:22

Die Christelike geloof is die evangelie van 'n tweede kans. Een ding wat die mensdom in gemeen het, is dat ons almal een of ander tyd iets doen wat ons werklik berou en waaroor ons bitterlik skaam is.

Ons moet egter nie toelaat dat ons menslike foute 'n skeiding maak tussen ons en die begeerte wat die Heilige Gees in ons harte plaas om ons tot God te wend nie.

Ons God is 'n God wat ons sondes sal vergewe. Dit maak nie saak wat ons gedoen het nie. Indien ons ware berou toon en Hom vra om ons te vergewe, sal Hy ons nie veroordeel nie. Hy sal ons sondes vergewe en ons 'n tweede kans gee, alhoewel daar iets is wat ons eers moet doen.

God verdra nie dubbele standaarde nie. Indien ons verlang dat ons hemelse Vader ons onvoorwaardelik vergewe, moet ons ook diegene wat ons veronreg het, vergewe. Jesus het dit in sy bediening beklemtoon.

Petrus het waarskynlik gedink dat Jesus sy vrygewige geaardheid sou prys toe hy gevra het of hy sy broer sewe keer moes vergewe. Jesus het geantwoord: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer." (Matteus 18:22)

Jesus het toe sy antwoord verduidelik met 'n gelykenis oor 'n amptenaar wat nie sy medeamptenaar kon vergewe nie. (Matteus 18:23-34) Hierdie gelykenis het 'n belangrike boodskap vir ons almal. Indien ons wil hê dat God ons genadig moet wees, moet ons ook genade aan ander bewys. Dan maak dit nie saak hoe aaklig ons omstandighede ook al is nie, Hy sal ons 'n tweede kans gee.

Jona was verseker in aaklige omstandighede toe die vis hom op die strand uitgespoeg het. Daar was hy, nat en bedremmeld, besmeer met die inhoud van die ingewande van die vis, en tog teen alle verwagtinge in, steeds lewend.

Hy was egter nie langer die rebelse Jona wat in die see gegooi is nie. Hy was 'n ander man. Daar, diep in die maag van die vis, het Jona hom tot God gewend en beloof om Hom te dien.

Jona was 'n groot teleurstelling vir God, en tog het die Here sy pleidooi gehoor en hom 'n tweede kans gegee. God het vir 'n tweede keer vir Jona dieselfde opdrag gegee: "Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.” (Jona 3:2) Hierdie keer het Jona geluister en na Nineve gegaan.

Gebed: Almagtige God, gee dat die Heilige Gees in ons 'n gees van gehoorsaamheid aan u wil sal laat groei. Amen