Neville Turley

Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word. Matteus 16:21

Die grootste wonderwerk van almal is die opstanding van Jesus. Dit was die vlam wat die wêreld aan die brand gesteek het en ons geloof is daarin geanker. Jesus het dikwels na sy lyding, dood en opstanding verwys.

In Jona het Jesus 'n verteenwoordiger van Homself gesien. "Net soos Jona vir die mense van Nineve 'n teken was, so sal die Seun van die mens 'n teken wees vir die mense van vandag." (Lukas 11:30)

Jesus se opstanding uit die dood was 'n bewys dat Hy die teken is, die langverwagte Messias. Geen wonder dat die Joodse owerhede probeer het om reg van die begin af twyfel te saai oor die opstanding deur die wagte by die graf om te koop om te sê dat hulle aan die slaap geval het en dat sy dissipels die liggaam gesteel het.

Een van die sterkste bewyse dat Jesus uit die dood opgestaan het, was juis sy dissipels se onwilligheid om die nuus van die opstanding te aanvaar.

Hulle was gebroke oor sy dood. Al hulle hoop en aspirasies het tot niks gekom en alles is in 'n warboel gedompel. Uiteindelik het dit die teenwoordigheid van die Verlosser geverg om hulle ongeloof te verdryf.

Die Bybel lys 'n hele aantal mense wat die opgestane Verlosser ontmoet het. Hulle trane van rou oor sy dood het in opgewonde blydskap verander toe hulle besef het dat Hy waarlik opgestaan het.

Tomas het getwyfel dat die ander dissipels waarlik die opgestane Jesus gesien het. En toe tydens 'n byeenkoms waar al die dissipels bymekaar was, het Jesus skielik verskyn. Hy het Tomas uitgedaag om aan die merke in sy hande en sy te voel en op te hou om te twyfel. Tomas het dit gedoen en Jesus erken met die woorde: "My Here en my God!" (Johannes 20:28)

Jesus het aan ons almal wat na Tomas sou kom, gedink toe Hy gesê het: "Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Johannes 20:29)

Mag geloof in die opgestane Christus ook jou hart met blydskap en geluk vul.

Gebed: Hemelse Vader, ons is so dankbaar dat deur die inspirasie van die Heilige Gees ons ook geloof in Jesus kan hê.  Amen