Neville Turley

Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil.  Spreuke 30:5

Tot op die punt waar Jona onder die water verdwyn, het die meeste mense nie 'n probleem om Jona se storie te glo nie. Die planeet aarde word tog deur sowat 71% water bedek.

Van toeka se dae af het miljoene der miljoene mense reeds verdrink, en nog meer mense is deur predatore wat in die water skuil, aangeval. Baie min het oorleef om die verhaal te vertel van hoe hulle uit hierdie lewensgevaarlike situasie gered is.

Jona het oorleef, en wat 'n verhaal het hy nie gehad om te vertel nie. Hy is lewendig deur 'n vis ingesluk, hy was drie dae en nagte in die maag van die vis en tog is hy nie dood nie. Hy het God geloof vir sy verlossing en het beloof om Hom te dien. Die Here het die vis beveel om Jona op die strand uit te spoeg en die vis was gehoorsaam.

Elke gelowige moet homself afvra of hy Jona se weergawe glo.

Die Jode het hom beslis geglo, en glo hom steeds. Die Groot Versoensdag (Jom Kipoer) is die heiligste dag op die Joodse kalender. Dit was die een dag in die jaar wat die hoëpriester die Allerheiligste binnegegaan het met die bloed van die offerbul en dit voor en op die deksel van die ark gesprinkel het om vir die sondes van die Israeliete boete te doen. (Levitikus 16)

Die Groot Versoensdag vind elke jaar op die tiende dag van die sewende maand (Tishri) op die Joodse kalender plaas (18-19 September in 2018). Op die Groot Versoensdag word die volledige Jona-boek in elke sinagoge regoor die wêreld gelees.

Bybelgelowige Christene aanvaar dat die volledige Bybel deur God geïnspireer is en dat dit na verlossing deur geloof in Jesus Christus lei. Die boek Jona is 'n integrale deel van die Heilige Skrif wat deur die genade van God aan ons geopenbaar is.

Jesus het die boek van Jona geglo. In 'n gesprek met die skrifgeleerdes en Fariseërs gebruik Hy die verhaal om hulle verkeerde weë uit te wys. (Matteus 12:39-41)

Sommige mense ervaar die storie van Jona as 'n struikelblok vir hulle geloof. Dit moet nie die geval wees nie, want dit bewys God se almag en heerskappy oor die hele skepping, oor die visse in die see en ook oor jou en my.

Gebed: Hemelse Vader, gee dat die Heilige Gees ons sal help om die waarhede van die Bybel in geloof te aanvaar. In die Naam van Jesus vra ek dit. amen