Neville Turley

God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. Sela

Psalm 46:2-4

Jona se gebed waar hy diep binne-in die vis is, is 'n keerpunt in sy verhouding met die Here. Hy was nie langer die rebel wat weggehardloop het om sy eie ding te doen nie.

Hy is bang dat hy besig is om dood te gaan en hy pleit om hulp. Jona was ten spyte van al sy tekortkominge eerlik. Hy praat met God oor sy angs en lyding. Die Here weet reeds wat in Jona se hart is, maar deur eerlik te wees, wys Jona sy opregtheid en eerbied vir God. Ons moet dieselfde doen.

Ongelukkig leef ons in 'n gevalle wêreld waar die duiwel, die vader van alle leuens, baie mense se harte oorheers. Ons samelewings is vol leuens. Ons leiers vertel leuens en ons doen dit ook, somtyds doelbewus en soms sonder dat ons dit bedoel. Mense lieg soms selfs vir God!

'n Baie gewilde predikant het op 'n keer besef dat hy in die gewoonte was om vir mense wat 'n behoefte aan vertroosting gehad het, te sê: "Ek sal vir jou bid" en dit dan nie te doen nie. Hy het so skuldig gevoel dat hy begin het om mense se gebedsversoeke neer te skryf sodat hy nie weer in daardie strik beland nie.

Die beste teenmiddel om die sonde van die leuen te bestry, is 'n lewendige gebedslewe. Jesus leer ons om te bid: "Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon." (Matteus 6:5-6)

Alleen, vasgevang in die maag van die vis, het Jona gebid en God het hom beloon. Ons hemelse Vader beloon ons ook as ons eerlik en opreg tot sy genadetroon nader en Hom as Verlosser en Here bely.

Gebed: Almagtige Drie-enige God, ons loof en prys U, deur Jesus Christus ons Here wat verenig met die Heilige Gees saam met U regeer. Amen