Neville Turley

U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.  Psalm 23:5

Die Christelike godsdiens is 'n godsdiens van liefde wat ewige geluk bring in die lewens van diegene wat glo. Die Here het die koninkryk van die hemel met 'n feesmaal vergelyk.

Die Jode glo dat wanneer die Messias in al sy majesteit na die aarde kom, die nuwe tydperk sal begin met 'n feesmaal waarby al God se uitverkorenes sal aansit.

Jesus het nie daardie geloof verwerp nie. Hy het net met hulle begrip van die gastelys verskil. Hy het die feesmaal wat God gaan aanbied verduidelik terwyl Hy hom verwonder het oor die geloof van 'n Romeinse offisier: "Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel. Maar mense vir wie die koninkryk bedoel is, sal in die diepste duisternis daarbuite gegooi word, waar hulle sal huil en op hulle tande sal kners.” (Matteus 8:11-12)

Volgens Jesus sal niemand net op grond van hulle geboortereg of status outomaties toegang verkry nie. Slegs diegene wat positief en onvoorwaardelik op God se uitnodiging reageer, sal by die feesmaal verwelkom word en toegang tot die koninkryk van die hemel verkry.

Gedagtes aan goeie kos by 'n feesmaal was seker ver verwyderd van Jona daar waar hy probeer het om in die maag van die vis te oorleef. Te midde van sy verknorsing, het Jona God geloof en Hom om hulp gevra.

Dit is so jammer dat baie van God se kinders wag totdat hulle hulle in 'n lewensgevaarlike situasie bevind, voordat hulle tot God bid. Sy ryke seëninge is egter altyd beskikbaar. God het reeds in hierdie vyandige wêreld vir ons 'n feesmaal voorberei.

In sy beroemde gedig, "Prayer", beskryf George Herbert (1599-1633) gebed as "the church's banquet".

Gebed is 'n volgehoue feesmaal waardeur God diegene wat geestelik honger is, ryklik seën. Hy voed die gees, bring blydskap, tevredenheid en vrede vir die siel.

Hoekom geestelik honger ly as jy deur 'n gereelde gebedslewe versadig kan word met manna uit die hemel?

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u Seun wat ons geleer het om te bid en ons bewus gemaak het van die kosbare gawes wat U vir ons deur die Heilige Gees gee. Ons loof en prys U nou en tot in alle ewigheid.  Amen