Neville Turley

Hoor tog my hulpgeroep, o God, slaan tog ag op my gebed. Ver uit die vreemde uit, in wanhoop, roep ek na U.  Psalm 61:2-3

Jona was in die moeilikheid en baie bang. Die onwillige profeet wat, eerder as om te bid, in die ruim van die skip wou lê en slaap, het hom nou, vasgevang in die maag van 'n vis, in gebed tot God gewend.

Gebed is dikwels die laaste uitweg vir 'n persoon op die randjie van die dood. Dit behoort egter eerste prioriteit te wees in die lewens van almal wat Christus volg.

Regdeur sy bediening het Jesus wat 'n volmaakte lewe gely het, in noue kontak met sy hemelse Vader gebly. Ons, wat in sy voetspore volg behoort dieselfde te doen.

God het ons lief. Hy is altyd gewillig om na ons te luister. Hoe nalatig van ons om nie gereeld met Hom te gesels nie.

Ons gee sover moontlik aandag aan ons gesondheid. As ons daagliks kroniese medisyne benodig, sal ons pligsgetrou verseker dat ons doen presies wat die dokter voorgeskryf het. Gebed is die kroniese terapie wat ons gereeld benodig om ons geestelike lewe gesond te hou. En tog faal ons so dikwels om te doen wat Jesus voorgeskryf het.

Soms gee God aan 'n persoon 'n finale kans om Hom aan te neem. Dit was die onderving van die misdadiger wat saam met Jesus gekruisig is. Hy het vir Jesus gesê: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23:42-43)

Ons weet nie verseker of ons dieselfde geleentheid sal kry voordat ons sterf nie. Dit is nou die tyd om jou in gebed tot God te wend.

Hoe meer ons bid, hoe nader groei ons na ons hemelse Vader deur sy Seun Jesus Christus.

Wat 'n wonderlike Christelike erfenis het ons nie; om gereeld met God in gebed te kan praat. Ons word werklik uitermate geseën.

Gebed: Hemelse Vader, ons loof en prys U. Gee dat die Heilige Gees ons elke dag nader aan U sal bring. Dit bid ek in die Naam van Jesus. Amen