Neville Turley

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!

Romeine 15:13

Jona het gedink die beste manier om God te ontwyk, is om weg te hardloop en sy wonde in Tarsis te gaan lek. Nie in sy wildste drome kon hy gedink het dat deur van God weg te hardloop hy lewendig in die see sou beland en deur 'n groot vis ingesluk sou word nie.

Dit is nie iets wat jy vir jou grootste vyand sal toewens nie. En tog, die Bybel se boodskap is duidelik. Ongehoorsaamheid aan God laat ons in situasies beland waaruit slegs ons hemelse Vader ons kan red.

Slegte tye is onafskeidelik deel van ons daaglikse bestaan. Soms is dit nie eers jou skuld dat jy seergemaak word nie. Maar net soos God Jona nie in sy uur van nood verwerp het nie, sal Hy ons ook nie verwerp wanneer ons kwesbaar is nie.

In ons vers vir vandag, vertel Paulus ons van die hoop wat Christene in die krag van God, deur geloof in Jesus Christus, het. Hoe sterk die lewenstorme ook al is, ons moet vashou aan die Bron van hoop.

Die Here gee aan ons die krag om dit te doen. Ten spyte van ons swakheid en onverdienstelikheid, sal die Heilige Gees vir ons in alle omstandighede onderneem.

John Greenleaf Whittier (1809 - 1892) 'n Amerikaanse digter en joernalis, skryf in sy gedig "The Eternal Goodness":

"I walk with bare, hushed feet the ground,

Ye trod with boldness shod,

I dare not fix with mete and bound,

The love and power of God.

Yet in the maddening maze of things,

And tossed by storm and flood,

To one fixed trust my spirit clings,

I know that God is good.

I know not what the future hath

Of marvel or surprise,

Assured alone that life and death

His mercy underlies.

And if my heart and flesh are weak,

To bear an untried pain,

The bruis'ed reed He will not break

But strengthen and sustain"

Hierdie hoop is die anker van die lewe, dit is veilig en seker.

Gebed: Hemelse Vader, gee dat die Heilige Gees ons help om ons hoop in geloof te anker. In die Naam van Jesus. Amen