Neville Turley

Ek het die aarde gemaak; die mensdom wat daarop is, het Ek geskep. Ek het met my hande die hemel oopgespan en Ek het aan al die hemelliggame hulle opdragte gegee.  Jesaja 45:12

Jona se vertrek van die skip het verreikende gevolge gehad. Die storm het bedaar en die see het kalm geword. Die bemanning het besef dat die God wat Jona aanbid die enigste ware God is en hulle het hulle tot Hom gewend. Die engele in die hemel was bly oor hulle redding, en arme Jona het deur sy eie toedoen die dood in die gesig gestaar.

Jona was op pad om te verdrink. God verlang egter nie die dood van 'n sondaar nie. "Toe stuur die Here 'n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag." (Jona 1:17)

Hierdie vers is seker die vers in die Jona-boek waaroor die meeste gestry word. Baie ure is, en word steeds, gespandeer om die betekenis hiervan te probeer analiseer en baie is reeds daaroor geskryf. Die duiwel gebruik ook hierdie vers aktief om twyfel en ongeloof in die woord van God te saai.

Watter soort vis kon 'n man heel ingesluk het? Kon dit 'n spermwalvis gewees het? Die Mediterreense See is die grootste binnesee in die wêreld, maar was daar ooit spermwalvisse in hierdie water?

Deel van die verwarring is die gevolg van die beperking van taal. In taal word woorde dikwels op dieselfde manier gespel en uitgespreek, maar die betekenis verskil. Die woord in Hebreeus en in Grieks wat met walvis vertaal word, het 'n aantal verskillende betekenisse. Dit kan byvoorbeeld ook vertaal word met groot vis of seemonster.

Deur al die spekulasie oor watter soort vis Jona ingesluk het, word die kernbetekenis van die vers dikwels misgekyk.

Dieselfde Here wat in beheer was van die storm en die golwe wat teen die skip waarop Jona was geslaan het, is ook in volkome beheer van die ganse skepping. Die Here beveel en alles wat Hy gemaak het, word aan sy wil onderwerp.

Hy het 'n groot vis opdrag gegee om Jona in te sluk en die vis het Hom gehoorsaam. Die vis het God gehoorsaam en dit was meer as wat Jona kon sê. Ons is dikwels baie soos Jona. Ons gehoorsaam die Here nie altyd nie en doen Hom oneer aan. Dit is hoekom God sy Seun gestuur het om ons met Hom te versoen. Hoe groot is die Vader se liefde vir ons!

Gebed: Hemelse Vader vergewe asseblief ons sondes. Help ons deur u Heilige Gees om tot u eer te leef. In Jesus se Naam vra ons dit. Amen