Neville Turley

die man wat opreg lewe, hy kan in my diens wees.  Psalm 101:6

Die storm woed voort. Die matrose het geweet dat hulle alles in hulle vermoë gedoen het om die skip en hulleself te red. Hulle het sonder sukses tot hulle gode gebid. In hulle desperaatheid besluit hulle om lootjies te trek om te sien of daar dalk iemand aan boord is wat vir hulle omstandighede verantwoordelik was.

Die lot val op Jona en hulle vra hom om 'n verduideliking. Hy erken ruiterlik dat hy die oorsaak van die probleem is.

Jona het hulle geantwoord: “Ek is 'n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.” (Jona 1:9) Hy het hulle vertel dat hy besig was om van sy God weg te vlug. Die bemanning was geskok deur sy erkenning en het dit vir hom baie duidelik gemaak dat om sy God te versaak, is 'n verskriklike ding om te doen. Die storm het voort gewoed en die bemanning wat raadop was, het vir Jona gevra wat hulle moet doen.

Jona het nie 'n gebrek aan moed gehad nie. Hy was eerlik met die bemanning en hy het geweet dat hy alleen vir die storm verantwoordelik was. Hy het toe vir die matrose gesê om hulleself te red deur hom in die see te gooi. Doen hulle dit, sou die storm bedaar.

Die matrose was egter huiwerig om Jona na sy dood te stuur. Hulle het besluit om baie hard te roei en te probeer om land te bereik. Die krag van die wind en die golwe was egter te sterk, en hulle kon nie vorder nie.

Hulle het besef dat hulle niks meer kon doen nie. Hulle het toe tot die God van Jona gebid en Hom gevra om hulle te vergeef as hulle Jona in die see gooi.

Die storm het onmiddellik bedaar. Die ongelooflike krag van Jona se God het die manne bang gemaak. Hulle het vir God 'n offer gebring en 'n gelofte afgelê om Hom te dien.

Jona se geestelike lewe was wel uiters deurmekaar, maar nogtans het God hom gebruik om die verlossingsweg vir die skeepsbemanning te wys. Danksy die getuienis van Jona, en die bemanning se gehoorsame reaksie, het God deur sy genade hulle lewens en hulle siele gered.

Ons dien 'n groot en wonderlike God. Dit maak nie saak in watter omstandighede ons ons bevind nie; ons moet nooit huiwer om ons getuienis met ander te deel nie want ons weet nooit watter seëninge dit tot gevolg mag hê nie.

Gebed: Here, gebruik my as 'n wegwyser vir ander. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen